’N man van Dysselsdorp wat ’n vrou wat onder die invloed van drank was, verkrag het, is Maandag 5 Desember 2022 in die Oudtshoorn streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Ronaldo Campher (20) wat aanvanklik sy naam as Ruduwaan Saptouw opgegee het, het Maandag skuldig gepleit op die klagte dat hy die 31-jarige vrou verkrag het.
Hy het saam met die vrou en haar kêrel by ’n partytjie gedrink.
Die klaer het glo in ’n dronkslaap verval en dis toe dat hy sy kans gegryp het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis is.
Sy het net soos Campher se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, toegegee dat wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum voorgeskrewe vonnis van tien jaar af te wyk.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik volgens statistieke vir verkragting, die gruwelike misdaad ’n kanker in ons samelewing geword het en die gemeenskap swaar vonnisse vir die oortreders verwag.
“Die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur vir voornemende oortreders dat hulle swaar gestraf sal word en ook voorkom dat die gemeenskap die reg in eie hande neem.”
Die vrou het in ’n impakverslag geskryf dat sy nie kon dink dat ’n jong man soos Campher haar sou verkrag nie.
Sy voel woedend en kwaad omdat Campher ’n kind is teenoor haar.
Sy slaap deesdae sleg en het haarself ook tot tik gewend om te vergeet wat met haar gebeur het.
Sy voel bevrees en onveilig.
Volgens haar het sy aanvanklik gedink dat dit haar kêrel was wat met haar geslagsgemeenskap gehad het, maar het toe met skok uitgevind dat dit nie hy was nie.
Die hof het vir vonnisoplegging Campher se tydperk in aanhouding, die feit dat hy nog jonk is, skuldig gepleit en berou toon, en ook nie die hof se tyd gemors het nie, in ag geneem vir ’n vonnis van agt jaar.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)