“HAAR glimlag sal ons inspirasie wees; haar voorbeeld op verskillende vlakke ons rigtingwyser,” sê ’n duidelik hartseer Chrissie Verwey oor die sinnelose dood van haar suster, Elouise de Waal (34).
Elouise het Donderdag (25 Februarie 2021) in die vroeë oggendure gesterf nadat sy na bewering met ’n mes in die nek gesteek is. ’n Man van 30 jaar oud is in verband met haar dood in hegtenis geneem.
“Ons haat nie die man wat dit gedoen het nie. Ons spreek hom vry sodat God met hom afreken,” sê Chrissie.
Volgens Elouise se ma, Petronella de Waal, het haar dogter se man haar die aand “weggerokkel” van die huis af. Hy het Elouise volgens Chrissie dikwels mishandel.
“Donderdagoggend drie-uur het ek haar hoor roep: ‘Mamma, help my, hy het my gesteek!’ Toe ek die deur oopmaak, toe borrel die bloed by haar nek uit.
“Sy het terug huis toe gestrompel. Haar hond Ribbie het bo-oor haar gewaak en wou nie eens die ambulansmanne by haar toelaat nie. Haar hond was haar tweede kind. Ek het ’n kombers teen die gapende wond gedruk.”
Volgens Petronella was Elouise baie lief vir die verdagte.
Chantell, Elouise se ander suster, sê die verdagte was onbeskof en verwaand op die toneel en het nie berou getoon nie.
“Wayden, Elouise se seun uit ’n vorige verhouding, wou weet waarom die man sy ma so aanrand. ‘Hoekom doen jy dit aan Mamma?’het hy vraend gesnik.”
Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê speurders ondersoek ’n klag van moord nadat die slagoffer met ’n steekwond in die nek aangetref is.
“’n Verdagte (30) is in hegtenis geneem en sal in die hof verskyn op aanklag van moord,” het hy gesê. (Deur Deon Meyer)
Mooie Elouise se mesdood ‘sinneloos’
Elouise de Waal van Ladismith wat verlede week op die dorp vermoor is. (Foto verskaf.)
The department must do something about this kind of people how many woman, children,must go through this anymore just do something for our savty.