’N VOORMALIGE assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Frikkie van Staden (53), is in die Oudtshoorn Streekhof op twee klagtes van korrupsie en een van bedrog skuldig bevind.
Van Staden wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, is daaraan skuldig bevind dat hy tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn Munisipaliteit onregmatig beïnvloed het om werk te verskaf aan ’n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading, wat aan sy skoonsuster, Frances Booysen, behoort het. Booysen was ook in diens van die munisipaliteit.
Altesaam 109 fakture ten bedrae van byna R2 miljoen is aan Kamvelihe betaal.
Die geld is in Booysen se bankrekening inbetaal wat dit dan onttrek en aan Van Staden oorhandig het.
Daarvoor het sy tussen R500 en R1 000 van Van Staden ontvang vir die gebruik van haar rekening en besigheidsnaam,
Die klagte van bedrog handel oor die feit dat Van Staden voorgegee het dat die dienste verskaf deur Kamvelihe gedoen is deur ’n entiteit wat nie verband gehou het met ’n werknemer van die munisipaliteit nie, en het daardeur die munispaliteit beweeg om die dienste van Kamvelihe te gebruik terwyl hy en Booysen geweet het dat hy self die dienste verskaf en die betaling ontvang het vir sy eie voordeel.
Streeklanddros Neels Nortje het Van Staden se weergawe dat hy nie aanvanklik bewus daarvan was dat die beslote korporasie aan sy skoonsuster behoort het nie, as vals verwerp.
Corne Pretorius verskyn vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 29 Maart 2021 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)