
Verskeie eregaste waaronder ’n aantal Poolse amptenare, het verlede Woensdag op Erfenisdag die onthulling van die monument bygewoon ter nagedagtenis aan die Poolse weeskinders wat na die Tweede Wêreldoorlog na Oudtshoorn gekom het.
Die CP Nel Museum het reeds in 2023 planne bekendgemaak om ʼn monument op te rig ter nagedagtenis aan die weeskinders wat in 1944 hier aangekom het, sowel as die mense wat hulle versorg het.
In 1944 het die Suid-Afrikaanse regering 500 Poolse weeskinders (299 seuns en 201 meisies), wat hul ouers en gesinne tydens hul ballingskap in die Sowjetunie verloor het, om humanitêre redes vanuit Iran na Oudtshoorn laat bring.
’n Poolse Kinderhuis (Dom Polskich Dzieci) is tydelik in Oudtshoorn op die plek waar die Oudtshoorn Infanterieskool tans is, opgerig om die kinders te huisves, met verblyf, versorging en ’n onderrigafdeling vir hulle.
Die kinderhuis is in 1947 gesluit en kinders is daarna regoor die land uitgeplaas om hul skoolloopbane te voltooi.
Dit is onder die vaandel van die Departement van Maatskaplike Welsyn bestuur, sowel as Poolse konsulêre en regeringsverteenwoordigers.
Toestemming dat die kinders na Suid-Afrika gebring kon word is deur Jan Smuts verleen.
Die program het verlede Woensdag om 09:00 by die Roomse katedraal in Baron van Reedestraat begin en die onthullingsprogram het om 11:00 by die monument by die CP Nel-museum begin.
Tydens die onthulling van die monument is die Poolse Erfenisroete ook bekendgestel.
Die roete sluit die CP Nel-museum, die katedraal, hangbrug en die terrein by die Infanterieskool in waar ’n gedenkplaat van die destydse kinderhuis opgerig is.
Vier van die destydse weeskinders het ook Woensdag se verrigtinge bygewoon en die seremoniële lint geknip om die monument amptelik te open. (HANNES VISSER)