Talle by kranslegging vir wyle Janine Stander

Bo: Janine Stander. Foto verskaf Onder: Mense wat die kranslegging langs die kanaal bygewoon het. Onder: Die kanaal met blomme wat ondersteuners saamgebring het. Foto’s Hannes Visser

Meer as 200 mense het Dinsdagmiddag langs die waterkanaal naby die skougronde vergader om ’n laaste eer aan Janine Stander te betoon.

Die kranslegging was op die toneel waar kledingstukke van Stander gevind is enkele dae nadat sy voorverlede week op Maandag 15 September vermis geraak het.

Polisieduikers het op Sondag 21 September in die kanaal, wat toe vol water was, na haar liggaam gesoek. Lede van die gemeenskap het ook vir twee dae in die omgewing gesoek, maar haar liggaam is verlede Dinsdag, 23 September, bykans 10 km stroomaf in die kanaal naby Volmoed gevind.

Haar man, Ryan, het verlede week aan Die Hoorn gesê dat sy Maandagmiddag 15 September, die huis verlaat het en nie weer gesien is nie.

Sy is laas deur mense wat haar ken gesien toe sy die volgende oggend omstreeks 02:00 die Wic’it Sports Pub verlaat het.

Uit verskillende oorde is verneem dat sy op verskeie plekke op videokameras vasgevang is, maar dit is onduidelik hoe sy tot by die kanaal gekom het.

Die polisie is besig met ’n geregtelike ondersoek na haar dood en het nog geen verdere inligting bekendgemaak nie. Stander was 39 en die ma van drie kinders van 18, 15 en 9.

’n Troosdiens is verlede week by haar ouers se huis op die plaas Buffelsdrift gehou. Dinsdag se kranslegging is deur OCAC (Oudtshoorn Community Against Crime) gereël waarvan raadslid Leon Campher die stigter is.

Na afloop van die kranslegging is mense genooi om blomme in die kanaal te gooi en talle emosionele tonele het op die wal van die kanaal afgespeel.

Campher het ’n beroep op die mense gedoen om enige inligting, hoe gering ookal, wat met die ondersoek kan help, aan die polisie te gee. (HANNES VISSER)

Ryan Stander (links) en Leon Campher het die eerste blomme in die kanaal laat val.