’N INSIDENT tussen die winkelbestuurder en ’n werknemer van Checkers op Oudtshoorn weke gelede het Saterdag (25 Maart) veroorsaak dat die winkel gesluit is omdat werknemers ontevrede was dat die winkelbestuurder terug op haar pos was die dag.
Volgens inligting wat Die Hoorn ontvang het is ’n dissiplinêre verhoor en ook ’n hofsaak rakende aanranding op onderskeidelik 22 en 23 Maart gehou.
Die uitslae van die dissiplinêre verhoor is onbekend, en die hofsaak op 23 Maart is na bewering van die hofrol geskraap omdat ooggetuies mekaar weerspreek het.
Die slagoffer, wat as rakpakker by Checkers werk, het met Die Hoorn gedeel dat hy op die dag van die insident hardhandig behandel is deur die bestuurder van die winkel.
Sy het hom na bewering gestamp van agter af en rondgeruk terwyl hy besig was om ’n trollie uit die pakkamer te stoot.
“As ek nie my balans gehou het nie sou my gesig in die trollie in gestamp het,” het hy gesê.
Hy vertel dat hy nie eens verstaan hoekom die winkelbestuurder hom so aangerand het nie, en volgens hom was daar minstens twee ooggetuies wat die insident waargeneem het.
“Sy het my gestoot en geruk en pluk.”
Tans is alle personeel van die winkel rasend dat hierdie insident plaansgevind het, daarom het hulle Saterdag voor die winkel betoog.
Die slagoffer beweer dat die winkelbestuurder juis Oudtshoorn toe gestuur is omdat sy in die verlede by ’n ander tak moles gemaak het en werknemers mishandel het.
“Sy het erg asemgehaal toe sy my aanspreek. Ek het nie verstaan wat aangaan nie,” het hy bygevoeg. Die slagoffer vertel dat hy sedert die insident nagmerries kry en nie behoorlik kan slaap nie. “Ek is getraumatiseer deur die insident. Ek weet nie wat om te doen nie.
Vandat dit gebeur het sukkel ek om te slaap. Hierdie ding gaan die heeltyd deur my gedagtes.
Na wat gebeur het, het sy ook net gemaak asof niks gebeur het nie. Ek verstaan dit glad nie,” het hy gesê.
Navrae aan Checkers was teen druktyd steeds ongeantwoord. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Moles by Checkers
Inwoners van Oudtshoorn het Saterdag voor ’n geslote deur te staan gekom. Foto: Stefan Skapie Goosen