
Die 47-jarige man wat tans aangekla word vir die moord op die 60-jarige Abraham Johannes Heradien sal op 31 Maart (Vrydag) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn vir sy formele borgaansoek.
Heradien is op Dinsdag, 21 Maart dood verklaar op die toneel van ’n padblokkade op die Dysselsdorp/De Rust-pad weens ’n steekwond onder sy linkerarm.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die polisie, het die voorval omstreeks 11:58 op die betrokke dag naby Rosevalley, Oudtshoorn plaasgevind.
Michaels het gesê ’n voertuig met twee insittendes het na bewering by die padblokkade gestop en het die bestuurder van die voertuig gesê sy passasier is beseer en dat hy met hom op pad was hospitaal toe.
“Ambulanspersoneel was op die toneel en het die 60-jarige man dood verklaar.
Daar was ’n steekwond onder sy linkerarm,” het Michaels gesê.
Met die beskuldigde – Fransisco Erasmus – se verskyning, Donderdag (23 Maart), het Heradien se vrou, Hester Heradien en die opsigter van die plaas waar hul bly in Hazenjacht, Magda Beukes, blykbaar flougeval in die hof omdat hulle die beskuldigde herken het.
Erasmus was bekend aan hulle sedert 2019. Hy het volgens Hester ’n lewenspolis aan die oorledene verkoop en homself as die begunstigde benoem.
Volgens Hester het die beskuldigde homself die dag vermom as ’n Muslim-vrou toe hy die oorledene opgelaai het.
“My man was gesond toe hy uit die huis uitstap. Mens kon net die oë van die persoon in die voertuig sien,” het sy gesê.
Hester het gesê sy glo Erasmus het geld uit haar man probeer kry, en dat die moord op haar man Erasmus se manier was om die fondse te bekom. “Hoeveel ander mense het hy dit nie al aan gedoen nie,” het sy gevra.
Luidens ’n plasing van Leon Campher, aktivis en raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit, op die Oudtshoorniete Staan Saam Facebook-blad, het daar reeds nog mense na vore gekom wat deur Erasmus geteiken is.
“Binne die twee dae het nog persone uitgekom wat deur die verdagte genader was vir polisse. Ons het maklik moontlik te doen met ’n syndicate en SAPS moet hierdie verdagte diep ondersoek.
Ons gaan vra dat hy nooit op borgtog vrygelaat word nie. Ons gaan op 3 April voor die hof ‘picket’,” het hy gesê.
Garnett Wicomb berig uit die hof:
DIE verhoor van ’n man van George wat van moord op ’n man van Bloupunt, Dysselsdorp, aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn landdroshof vir ’n formele borgaansoek tot 3 April uitgestel.
Tydens die man se eerste verskyning het dit aan die lig gekom dat die liggaam van Abraham Herandien deur verkeersbeamptes in die kattebak van die motor van Fransisco Erasmus op die De Rust-pad gevind, en dat hy later op die toneel deur paramedici dood verklaar is.
Erasmus het glo gereeld by die oorledene en sy vrou se huis op Volmoed gekom en ook vir hulle kos geneem.
Die vermoorde Herandien ken Erasmus glo sedert 2019.
Landdros Vaughn Shone het die saak Vrydag vir Erasmus se borgprofiel en borgtogaansoek tot 3 April uitgestel.
Leon Campher, Oudtshoorn-raadslid en gemeenskapsleier, sê die gemeenskap gaan ’n petisie opstel om borgtog vir Erasmus teen te staan.
Volgens Campher wil hulle vir mense, nie net van Oudtshoorn en Dysselsdorp nie, maar regoor die land wat siek en sat is vir misdaad, versoek om die petisie te onderteken.
Herandien word komende Saterdag in Volmoed begrawe. (Deur Stefan Skapie Goosen)