

’N MASSIEWE installasie bestaande uit die woord “droom” in agt tale het Dinsdagmiddag tussen twee bome op die oop stuk grond langs Gotlandhuis in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn verrys.
Die installasie maak deel uit van vanjaar se KKNK wat Saterdag (1 April) op Oudtshoorn afskop.
Die woorde is deur vroue van Oudtshoorn betrokke by die ReWOLusie-projek uit pers geskenklint gehekel.
Die woorde in die agt tale is: Toro – Sotho en Setswana; Dream – Engels; Droom – Afrikaans; Phupho – Zoeloe; Phupha – Xhosa; Kurota – Shona; Maloto – Chichewa; en Hapos – Khoikhoigowab.
Liza Grobler, die KKNK se feeskunstenaar vanjaar, het die vroue bedank vir hul samewerking en die KKNK vir hul steun met die projek en installasie.
Grobler woon die afgelope twee jaar op Oudtshoorn.
Die ReWOLusieprojek het in 2019 voor die KKNK ontstaan toe die hele dorp – van bome tot pilare tot fietse en motors – met gebreide en gehekelde wolprodukte versier is.
Daarna het die projek gegroei en ’n ware gemeenskapsprojek geword van mense wat oor kultuur- en dorpsgrense begin saambrei en -hekel het. Die projek het ook ’n vennoot geword van die jaarlikse 67 Blankets for Mandiba en al duisende komberse aan behoeftige mense op Oudtshoorn geskenk.
Die ReWOLusieprojek is in 2020 by die jaarlikse kykNET Fiëstas met die gesogte Blou Fiësta bekroon, die toekenning wat vir sonderlinge prestasies op ’n kunstefees gegee word.