Berry saak uitgestel vir argumente

Marilize Nortier

DIE saak teen die bestuurder van die motor waarin die 18-jarige matrikulant, Marilize Nortier, in 2019 gesterf het nadat dit in ’n watersloot langs die Kango Grotte-pad beland het, is verlede week na die getuienis van die beskuldigde se moeder en die sluiting van die verdediging se saak vir slotargumente, tot 14 April uitgestel.

Die 25-jarige Sidney Berry van Groot Brakrivier wat onskuldig pleit, het verlede Woensdag getuig dat hy beslis hulp sou verleen het indien hy geweet het dat daar iemand in sy motor was.

Berry staan tereg op klagtes van strafbare manslag en versuim om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen.

Berry, wat telkemale deur sy regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, versoek is om harder te praat, het getuig dat hy die betrokke aand by die Braaikraal kuierplek net een dubbel brandewyn en Coke gedrink het en nie dronk was toe hulle die plek verlaat het nie. Hy was die meeste van die tyd in die geselskap van die oorledene maar daar was niks tussen hulle nie.Hy het Moné Rowe se getuienis dat haar vriend, André Burger, die kroegman, vir hom ’n Jägermeister drankie gegee het om dankie te sê vir haar saamrygeleentehid na Oudtshoorn vroeër die dag, ontken.

Hy het ook ontken dat hy die aand ’n “tray shooters” gekoop het omdat hy nie baie geld by hom gehad het nie. Berry het voorts getuig dat hy sy bewussyn met die ongeluk verloor het en toe hy bykom, dubbelvisie gehad het. Hy het by die motor se windskerm probeer uitklim maar toe deur die venster van die deur aan die bestuurderskant uitgeklim. Daarna het hy oor die pad gestap en aan ’n huis se deur geklop. Toe niemand oopmaak nie is hy terug na die pad waar ’n verbygaande motoris, Leon Botha, hom opgelaai en na sy huis geneem het om te stort. Hy het gebewe en was vol bloed.

Hulle is nie na die motor nie omdat hy nie geweet het dat daar iemand in die voertuig was nie.

Op ’n vraag van sy regsverteenwoordiger of Burger die motor se ruite afgedraai het as gevolg van die sterk wynwalm het hy nee geantwoord.

Burger het hom later die oggend teruggeneem na die ongelukstoneel waar sers. Heine Jullies hom meegedeel het dat daar iemand saam met hom in die motor was. Bans het na aanleiding van die getuienis van die plaasbestuurder, Japie Potgieter, dat hy nie daarin kon slaag om die motor op sy wiele te kry nie en ’n vierwiel voertuig moes gebruik, van Berry weet of hy dit sou kon doen. Berry het hierop nee geantwoord. Hy het ook ontken dat hy wit skoene van ’n vrou bo die water in die sloot gesien het.

Berry het volgehou dat hy nie geweet het daar was iemand anders in die voertuig nie en net kan onthou dat hy die bestuurder was. Hy het ook volgehou dat hy nie gefaal het om sy verpligting na te kom om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen nie. Volgens die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die staat ’n sterk saak wat kan lei tot Berry se skuldigbevinding. Die saak dien voor landdros Vaughn Shone en is Donderdag na die getuienis van Berry se moeder vir argumente tot 14 April uitgestel. Berry is steeds uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)