Bo: Een van die skewe, vuil grafte in die Oudtshoorn Begraafplaas waaroor begrafnisondernemers van Oudtshoorn kla. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
OM meer as R2 000 op Oudtshoorn te betaal vir ’n graf wat nie aan die munisipale vereistes voldoen nie, is onaanvaarbaar, sê Irma Odendaal, bestuurder van Avbob.
Van Oudtshoorn se begrafnisondernemers sê van die gate wat in die Oudtshoorn Begraafplaas gegrawe word, voldoen nie aan die voorgeskrewe groottes soos in die munisipale bywette vasgestel nie. Slegs Odendaal was bereid dat haar naam genoem word. Van die grafte is klaarblyklik soms te groot as gevolg van die “handjie” van ’n laaigraaf wat die oorspronklike gat grawe, en ander kere is dit skeef gekap en moet dit deur die begrafnisondernemer reguit gekap word sodat die kis nie vashaak teen die kante nie.
Volgens Odendaal is die standaard grootte van ’n graf 0,9 m breed en 2,2 meter lank. Enkelgrafte behoort ’n outydse ses voet en dubbelgrafte ’n outydse agt voet diep te wees.
Grafte wat deur ’n begrafnisondernemer aan Die Hoorn uitgewys is, was sigbaar skeef gegrawe, en onder meer 3 m lank, 1,6 m breed en slegs 4,5 voet diep.
Die ondernemer sê hulle besigheid moet in gevalle waar die graf nie die regte grootte is nie, planke inry en oor die graf sit omdat hul masjiene ingestel is om die kis in ’n graf van sekere mates te laat insak.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê egter grafte word volgens die spesifikasies in die bywette gegrawe, maar dat daar as gevolg van onder meer groot klippe wel klein verskille kan voorkom in die groottes van die grafte.
Hy het begrafnisondernemers genooi om hul probleme of klagtes met die munisipaliteit te kom bespreek sodat dit opgelos kan word.
• Rommel en vullis wat in grafte gegooi word asook menslike ontlasting daarin wat uitgehaal moet word, is nog ’n kopseer van begrafnisondernemers.
Mangqwengqwe sê die meeste asdromme en al die toilette wat voorheen in die begraafplaas was, is gevandaliseer en vernietig of weggedra. Mobiele toilette word tans oor naweke wanneer die meeste begrafnisse plaasvind, gehuur.
“Daar is families wat wel na ’n begrafnis die rommel saamneem huis toe en die munisipaliteit waardeer dit. Die rommel is egter vir ons ook ’n bekommernis en daar word tans na maniere gekyk om die probleem op te los.”