Campher Desember voor

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Oudts­hoorn wat daarvan aangekla word dat hy sy saamleefmaat vir drie dae aan­gehou, gemartel en so ernstig aan­ge­rand het dat sy vandag met ’n rolstoel oor die weg moet kom, is vir ver­dere verhoor in Desember uitge­stel.

Enver Campher staan tereg op klagtes van menseroof en poging tot moord, maar pleit onskuldig.

Hy het by sy laaste hofverskyning getuig dat hy en die klaer, Natasha Mei (31), die naweek van 24 tot 29 Augustus 2017 by sy suster, Ashley Campher, oorgebly het. Volgens hom is dit nie so dat sy hulle nie daar wou hê nie.

Hulle het die Maandagaand saam gedrink en het later begin baklei nadat Mei nie kon sê waar die geld is wat hy haar gegee het vir die vrou wat na sy ander kinders omsien nie. Volgens hom was dit nie die eerste keer nie en het dit hom baie kwaad gemaak.

Hy het ontken dat hy die sleutels van die huis by hom gehou en die slaapkamerdeur waarin hy en Mei was, toegesluit het.

Volgens hom het hy Mei net een keer met die vuis in die gesig geslaan waarna sy geval en haar kop teen iets gekap het. Hy sê hy het haar ook vier keer in haar linkersy geskop.

Hy het op ’n vraag van die landdros geantwoord dat hy haar hospitaal toe wou neem omdat, in sy woorde, “sy baie seergekry het”.

Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor. Willem Vister is die aanklaer en Eugene Roos van die regshulpraad verskyn namens Campher.