Minnie se enkelsnit gewild

Byron Minnie se nuutste enkelsnit, Tienduisend keer is nou beskikbaar. Foto: Verskaf

“DIE liefde was nog nooit verkeerd nie” so sê Byron Minnie, sanger en Oudtshoorniet met die vrystel van sy nuutste enkelsnit ‘Tienduisend keer”, wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Minnie se sangloopbaan het behoorlik posgevat met twee vollengte albums wat vanaf 2018 uitgereik is.

Hy het ook al ’n hele paar oorspronklike enkelsnitte vrygestel wat al op plaaslike radiostasies gespeel is, en goed deur die publiek ontvang is.

Name soos Jakkie Louw, Francois van Coke en Juan Boucher, is bekendes saam met wie Minnie die verhoog gedeel het, om maar ’n paar te noem.

Sy nuutste lied, ‘Tienduisend keer’ het ’n oornag sensasie geraak en is al verskeie keer op talle musiek platforms afgelaai en selfs op Facebook gedeel.

Minnie wat in Oudtshoorn grootgeword het, het na skool klank-ingenieurswese studeer.

“Ek het nooit gedink dat ek self agter ’n mikrofoon sal beland nie, alhoewel ek op skool reeds liedere geskryf en bietjie gesing het,” sê hy

Sy vriende en familie het hom aangemoedig, en só het Minnie op die verhoog beland.

Hy het egter nie ’n gunsteling musiekgenre nie, en hou van alle tipes musiek.

Besoek gerus sy Facebookblad, om na die nuwe opwindende lekker-luister popliedjie te luister.

Binne enkele dae word Minnie se splinternuwe lied en enkelsnit ‘STYF VAS’ vrygestel.

“Ek hoop Oudtshoorn en sy mooi mense is so opgewonde soos ek. Dankie vir almal se liefde en ondersteuning. Vir altyd ’n trotse Oudtshoorniet.” sê Minnie. (Deur Angelique Erasmus)