Die saak teen die vroue-bestuurder van die voertuig wat op 8 November 2024 op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat in ’n botsing was met die motor van ’n jong onderwyser van Oudtshoorn en hy daarna gesterf het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof na ’n lang debat tussen die beskuldigde se regsverteenwoordiger en die landdros tot 8 September uitgestel.
Die regsverteenwoordiger van die 40-jarige Samantha Meyer, Bulelani Bans, het die hof meegedeel dat hy die senior staatsaanklaer se besluit om die klagte van strafbare manslag terug te plaas op die hofrol vir hersiening na die hooggeregshof wil neem.
Volgens hom was dit ’n irrasionele en ondeurdagte besluit wat heeltemal onaanvaarbaar is.
Volgens hom sê die staat die een oomblik dat die saak in die distrikshof aangehoor moet word en die volgende oomblik dat dit in die streekhof moet plaasvind.
Streeklanddros Ntsoki Moni het dit aan Bans gestel dat dit buite haar jurisduksie val en die saak vir opklaring tot 8 September uitgestel.
Meyer word aangekla van strafbare manslag, dronkbetuur, roekelose en/of nalatige bestuur.
Die 24-jarige JP “Pokkels” Sauls, wat ’n onderwyser aan die Laerskool PJ Badenhorst op Dysselsdorp was, is in die ongeluk dood.
Die klagte van strafbare manslag is op 10 Junie 2025 in die distrikshof deur die staat teruggetrek maar later weer sonder om redes te verskaf teruggeplaas op die klagstaat. Meyer is op waarskuwing. (GARNETT WICOMB)
Meyer-hofsaak uitgestel tot September
