Die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van sektor 3 het Dinsdagaand, 5 Augustus, ʼn nuwe komitee verkies. Die komitee dien op ’n vrywillige basis en is aan die stuur van die sektor se GPF met die plaaslike polisie se ondersteuning.
Die GPF is ’n vennootskap tussen die plaaslike gemeenskap en die polisie. Dit voorsien ’n platform vir inwoners om met die polisie te skakel om misdaad binne die gemeenskap aan te spreek en die sukses daarvan hang tot ’n groot mate af van die deelname van die gemeenskap.
Deur gereelde vergaderings en samewerking poog die GPF om beter kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap te bevorder sodat die polisie aandag kan gee aan kernmisdaadkwessies binne die gemeenskap.
Deur die GPF word bewusmaking geskep t.o.v. gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkoming en die beskerming van eiendom. Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote te werk. Alle organisasies, raadslede, gemeenskapsleiers en kerkleiers word aangemoedig om by die GPF aan te sluit om ’n verskil in Oudtshoorn te maak.
’n Aantal knelpunte is tydens Dinsdag se vergadering bespreek waaronder die misdaad in die sakekern wat Hoog-, Kerk-, St John- en Adderleystraat insluit. Vanaf 7 Julie tot 2 Augustus is 70 sake in sektor 3 aangemeld waarvan 24 in die sakekern was.
Volgens die statisitiek is 80% van voorvalle diefstalsake en veral selfone word gesteel.
Karwagte en straatkinders bly ’n wesenlike probleem en die onderskeie rolspelers probeer volhoubare oplossings vind.
Die Oudtshoorn Noord- en Wes-buurtwagte is operasioneel en sigbaar. Daar is veral verwys na die Noord-buurtwag wat ’n wesenlike verskil maak met misdaad in die area.
’n Groot kommer vir die komitee is dat perso-neel van Oudtshoorn-wetstoepassing wat genooi is na die vergadering om belangrike knelpunte te bespreek, nie opdaag nie.
Die GPF-komitee vir die volgende termyn is: Fanie Erasmus (voorsitter), Johan Conradie (ondervoositter), Raynard Smit (sekretaris), Drew Biljon (projekleier), Louise Mouton (media) en Andrew Kuhn (addisionele lid).
’n Tesourier sal op ’n later stadium verkies word. Navrae kan gerig word aan die sekretaris by 081 259 7488 of stuur ’n e-pos aan smitraynard49@gmail.com.
Gemeenskap genooi om by GPF betrokke te raak
Fanie Erasmus, voorsitter van GPF Sektor 3. Foto verskaf