
Die Joodse begraafplaas in Condorstraat het reeds verskeie kere onder vandalisme deurgeloop.
Selfs die veiligheidsheining wat jarelank bo-op die sandsteenmuur was, is gesteel en die aanbring van ʼn sekuriteitstelsel van R70 000 met alarms, het nie gehelp nie.
In die jongste voorval is meer as 10 kopstukke afgebreek en omgegooi.
Die Joodse gemeenskap het nou besluit om al die vertikale kopstukke van die grafstene te laat afhaal en plat op die grafte aan te bring. Die koste hiervan beloop ongeveer R170 000.
Dalia Wilck, lid van een van die enkele Joodse families wat nog in die dorp is, vertel dat daar in die vroeë 1900’s meer as 500 Joodse families in Oudtshoorn, wat ook as Suid Afrika se Jerusalem bekendgestaan het, gewoon het.
Tans is daar slegs ’n handjievol Joodse gesinne in die dorp, maar hulle behou en onderhou hulle tradisies, kerk en begraafplaas met groot toewy-ding.
Die begraafplaas het meer as 200 grafte waarvan sommiges uit die 1800’s dateer. Nasate van mense wat daar begrawe is, is oor die land en in die buiteland versprei en daarom word daar ’n beroep op Joodse gemeenskappe oral gedoen om hulp te verleen met die herstel en bewaring van die grafte. Die Joodse begraafplaas is die tweede grootste Joodse begraafplaas in die land.
Die grootste een is in Pine- lands, Kaapstad. Anders as met ander begraafplase in die dorp, onderhou die Joodse gemeenskap self die begraafplaas wat ʼn integrale deel van Oudtshoorn se erfenis en geskiedenis is.
Hulle besoek die begraafplaas gereeld, hou dit skoon en beveilig dit sover as moontlik.
Die onlangse voorval van vandalisme het plaasgevind tussen twee besoeke enkele dae uit mekaar toe een van die sakemense wat ’n ogie oor die begraafplaas hou, daar was.
Enige instansie, onderneming of persoon wat tot die inisiatief wil bydra, kan Dalia per e-pos bereik by dalswilck@gmail.com. (HANNES VISSER)