Geen reaksie van DKD oor tref en trap voorval

Die toegangshek waar ʼn DKD-lid verlede week deur ’n voertuig getref is. Foto: Angelique Erasmus

Die Hoorn het teen spertyd nog geen reaksie ontvang oor die voorval verlede Donderdagnag toe ’n lid van korrektiewe dienste by die gevangenis se hek raakgery is nie.

Die Hoorn het ’n navraag aan die nasionale woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Singabakho Nxumalo, gestuur wat verlede Vrydag saam met die nasionale kommisaris van die DKD die Oudtshoorn gevangenis besoek het.

In die navraag het Die Hoorn gevra wat die omstandighede rondom die voorval was en ook wat die uitkoms van die kommisaris se besoek was na aanleiding van die voorval voor-verledeweek toe DKD-lede met skerp voorwerpe aangeval is en een gevangene dood is.

In die afwesigheid van ’n verklaring het Die Hoorn intussen betroubaar verneem dat die lid wat verlede week deur ’n bakkie getref is, Dinsdag weer in die hospitaal opgeneem is. Hy het onder andere bese-rings aan sy kop en gesig opgedoen.

Dit blyk ook dat ’n aanvanklike verklaring dat die voertuig eers by die hek stilgehou het en toe vorentoe beweeg het en die lid teen die hek vasgedruk het, nie juis was nie. Daar is vertroulik verneem dat videomateriaal beskikbaar is wat toon dat die lid glo besig was om die hek oop te maak toe die bakkie die hek van buite tref en die lid etlike meter ver geslinger het.

Die bakkie het na die voorval weggejaag, maar kon glo geїdentifiseer word. Daar word intussen wyd bespiegel of die twee voorvalle by die gevangenis, ongeveer ’n week uitmekaar, met mekaar verband hou. (HANNES VISSER)