Toe Ansie Beukes in 1992 ingestem het om ’n vakansie na Badplaas vir haar ma en ’n groep van haar ma se vriendinne te reël, het sy nie geweet dit sou die begin wees van ʼn onderneming wat 33 jaar later steeds Suid-Afrikaners landwyd en na buurlande op reis sou neem nie.
“Ek het daardie eerste toer vir my ma en 20 ander senior burgers sommer so as ’n guns gereël en die volgende jaar toe was daar ’n groep van 43 wat Tshipise toe wou toer, en daar het alles begin,” vertel sy.
“Dit was voor die tyd van luukse toerbusse en toersimeburo’s en ons het treine en skoolbusse gebruik. Ek was die heel eerste een wat sulke toere gereël het en ek het dit so bekostigbaar as moontlik gemaak, sodat dit vir meer mense beskore was,” sê sy.
Sy het die toere aanvanklik alleen gereël en begelei totdat haar man, Gert, op vroeë aftrede besluit het en deel geword het van die toere.
Hulle het 22 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis en sedertdien het Beukes Toere tot so ’n mate gegroei dat hulle kinders die grootste deel oorgeneem het. Ansie en Gert fokus die afgelope 15 jaar op teatertoere wat uiters gewild is. Sodra daar ’n groot teaterproduksie in Kaapstad bekendgemaak word, bespreek hulle vroeg-vroeg tot soveel as 60 tot 90 van die beste sitplekke vir hulle toere.
Verlede jaar het hulle drie groepe na My Fair Lady vergesel en besprekings vir vanjaar se toer om die opvoering van Chicago by te woon is reeds aan die gang. Vir slegs R5 200 bied hulle ’n driedagtoer met twee aande in ’n vierster-hotel wat alle etes, vervoer, verblyf en teaterkaartjies insluit. Vir Chicago doen hulle vanjaar vir die eerste keer ’n toer wat spesifiek op inwoners van Oudtshoorn fokus. Die toer vertrek vanaf Oudtshoorn en eindig weer hier.
“Die teatertoere is vir ons baie spesiaal, want dit is veel meer as bloot ’n toer om bestemmings te besoek. Dit is regtig ’n voorreg as mens vir soveel jare jou passie kan uitleef en daarmee saam jou entoesiasme kan behou,” sê Ansie.
Sy noem ook so terloops dat sy hierdie week reeds plekke bespreek het vir die gewilde Cats-opvoering wat binnekort ook in die Kaap begin. Terwyl Ansie en Gert op teatertoere fokus, is die res van die Beukes-familie besig om steeds toere in die binneland en na buurlande aan te bied.
Voorwaar ’n toeronderneming wat ’n familiebesigheid is en met ongelooflike entoesiasme en passie met Suid-Afrikaners gedeel word.
