

Die kruising van Rand- en Kerkstraat was Dinsdagmiddag vir verkeer gesluit na ’n noodlottige botsing waarin ’n motorfietsryer gesterf het.
Jay-Dee Klue was met Kerkstraat in die rigting van die dorp onderweg toe ’n vragmotor vanuit Randstraat hom getref het.
Klue en die motorfiets het op die sypaadjie te lande gekom.
Hy is kort na die botsing op die toneel oorlede.
Volgens ’n getuie het die vragmotor vanaf St Saviourstraat se kant met Randstraat langs gery en by die kruising voor die motorfiets ingery.
Dit is nie duidelik of die vragmotor by die stopstraat gestop het en toe weggetrek het nie.
Die vragmotor, wat op videomateriaal van ’n gastehuis by die toneel en op ’n kamera een blok verder vasgevang was, het nie by die toneel stilgehou nie.
Kort nadat die voorval op koerante se sosiale media geplaas is, het die bestuurder of die eienaar van die vragmotor by die Bongolethu polisiestasie aangemeld.
Volgens mense wat dadelik op die toneel was, het die beseerde Klue nog gelewe, maar met die aankoms van nooddienste was hy reeds dood.
Klue se pa, Rassie, was sowat ’n uur na die botsing op die toneel nadat die polisie die oorledene se identiteit kon bevestig en hom in kennis kon stel.
Hy het sy seun se liggaam uitgeken en gesê dit was Jay-Dee se 23ste verjaarsdag.
“Hy was op pad terug werk toe nadat hy parte gaan aflewer het. Ons werk vir dieselfde werkgewer wat motoronderdele verkoop en ons sou mekaar vyfuur gekry het, nadat ons by die werk uitgeval het,” het ’n emosionele Rassie op die toneel gesê.
Hy het Woensdagoggend telefonies gesê sy drie dogters, wat ouer as Jay-Dee is, en onderskeidelik op Ladismith en Calitzdorp woon is saam met familielede by hom.
Inwoners wat naby die botsingstoneel woon, het gesê daar is ’n dringende behoefte aan ’n vierrigtingstop by die spesifieke kruising aangesien verkeer wat uit die rigting van die Moskee kom nie dadelik sigbaar is nie omdat daar ’n draai in die pad is.
Volgens een inwoner was daar ten minste vier botsings by die kruising waarvan sy bewus is.
Die Hoorn het ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur om te verneem of daar ’n moontlikheid is om ʼn vierrigting stopstraat aan te bring soos wat ’n aantal maande gelede by die aansluiting van Randstraat met St. Saviourstraat gedoen was.
Teen Donderdagoggend het Die Hoorn nog geen reaksie van die SAPD ontvang ten opsigte van moontlike klagte wat ondersoek word nie. (HANNES VISSER)