Die oudste lewende Wicomb, die merkwaardige Adam “Meester Ampie” Wicomb, van Sesde Laan, Colridge View, Oudtshoorn, het Sondag sy 100ste verjaardag saam met sy kinders, kleinkinders en agterkleinkind by sy huis gevier.
“Die lewe is nie ’n stagnante of volmaakte struktuur nie maar ’n uitdagende en verrassende groeiproses. Ek is vandag tien dekades oud en ’n honderd jaar jonk,” het Meester Ampie Sondag gesê.
Die familie sou die geleentheid met ‘n spogdinee in ’n plaaslike hotel vier, maar dit is vanweë die Covid-19-pandemie gekanselleer.
Meester Ampie is op 20 Desember 1920 op Matjiesrivier gebore.
Sy pa is in 1930, toe hy 10 jaar oud was, oorlede en sy ma hethom, twee broers en twee susters, onder moeilike omstandighede alleen grootgemaak.
“Ek het baie by my ma geleer. Deur al die swaarkry was sy ’n trotse mens en dit het sy aan ons oorgedra.
“Ons kinderjare was in die grootste armoede na my pa se dood.”
Hy het Sondag bewoë geraak toe hy van sy broers en susters gepraat het.
“Dit was swaar jare maar ons het mekaar ondersteun en dit het ons nader aan mekaar gebring.”
Hy praat met trots van sy “musiekbroer”, Siepie, wat in die apartheidsjare alle gehore en bevolkingsgroepe saamgetrek het met sy musiekuitvoerings.
Meester Ampie sê hy geniet nog besonder goeie gesondheid.
“Ek het sedert 2018 probleme met my gehoor en sig, maar ek is die Here dankbaar om nog elke oggend te kan opstaan, my aan te trek en alles vir my self te doen,” sê dié gelowige Godsman, wat nog baie lees en skryf.
Hy vertel dat hy na st 6 (Vandag graad 8) vir twee jaar op die plaas gewerk het om die huis se inkomste aan te vul en was daarna een van die eerste leerders van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn toe die skool sy deure in ’n ou tabakfabriek in Noordstraat, Oudtshoorn geopen het.
“Die kinders van buite Oudtshoorn het tuisgegaan in die eerste ‘hostel’ van ene Gustin Nomdoe in Condorstraat.”
Meester Ampie het hom in 1943 as onderwyser aan die destydse Athlone Onderwysinstituut in die Paarl bekwaam en die volgende jaar op Ladismith begin skoolhou, waar hy sy vrou, Maggy, ontmoet het.
Na twee jaar is hy na Kammanassie en was daarna prinsipaal van Snyberg Primêre Skool vir sewe jaar.
Hy is toe aangestel as skoolhoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool waar hy vir 24 jaar aan die stuur was.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien – eers op Dysselsdorp, daarna Oudtshoorn en sedert 1985 was hy diaken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk totdat hy in 1992 tot lewenslange erediaken vereer is.
Hy was een van die stigterlede van dié kerk wat op Kersfees sy 35 ste bestaansjaar vier. (Deur Garnett Wicomb)