KKNK uitgestel na onsekerheid oor Covid-19 en pandemie

So is bome in Oudtshoorn vroeër vanjaar versier toe die KKNK ook nie as gevolg van die pandemie kon plaasvind nie. Foto: Hans van der Veen

2021 se KKNK wat van 31 Maart tot 6 April in Oudtshoorn sou paasgevind het, is deur die bestuur en direksie van dié kunstefees uitgestel as gevolg van onsekerheid rondom die Covid-19-pandemie en die groot risiko wat dit vir inwoners, kunstenaars en feesgangers inhou. Vanjaar se KKNK moes afgestel word as gevolg van die pandemie en inperkingsregulasies.

Hier is die persverklaring wat vanoggend deur die KKNK uitgereik is:

Die bestuur en direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het na deeglike besinning en met inagneming van die onsekerheid rondom die Covid-19-pandemie besluit om die fees wat vanaf 31 Maart tot 6 April sou plaasvind, vir eers uit te stel.

“Hoewel ons bitter graag in 2021 weer begin April wou fees vier in Oudtshoorn, is die gesondheidsgevare en die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie bring, steeds ’n kommerwekkende faktor,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. “Hoë en steeds stygende infeksietellings landwyd het dié besluit genoodsaak.”

Dié besluit is nie ligtelik of in isolasie geneem nie, sê Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die organisasie wat onder meer die KKNK aanbied. “Ná samesprekings met ons vennote, borge, die Oudtshoorn-munisipaliteit en Wes-Kaapse regering was die konsensus dat ’n fees rondom Paasnaweek ’n te groot risiko inhou vir al die betrokke partye – dorpenaars, besoekers en kunstenaars. Uitstel is die verantwoordelike besluit, maar dit beteken nie dat ons verbintenis tot die fees en ondersteuning van die kunstenaars en gemeenskappe in gedrang sal kom nie,” sê Sonn.

“Die direksie, bestuur en al ons vennote is reeds geruime tyd in gesprek oor alle moontlikhede en ons evalueer die situasie deurlopend. Ons moet eenvoudig die statistiek en die wêreldwye verloop van die pandemie in ag neem om deurdagte besluite te neem. Ons sal weer in Januarie die situasie bespreek en nuwe datums vir ’n fees in 2021 ondersoek.”

Absa, die hoofborg van die fees, steun dié besluit. “Covid-19 het die manier waarop ons as ’n gemeenskap en as ’n besigheid in interaksie tree fundamenteel verander,” sê David Wingfield, bestuurshoof van bemarking en die handelsmerk.

“Absa steun ten volle die KKNK se besluit om die fees wat vir die eerste week in April beplan is, uit te stel. Ongeag wat die nuwe jaar inhou, bly ons toegewy aan die KKNK, die kunstegemeenskap en die KKNK se planne om die Kunste lewend te hou – of dit ’n viering van saamwees of veilige, virtuele geleenthede is. Die veiligheid en gesondheid van die gemeenskappe wat ons dien en die potensiële feesgangers is ons hoofprioriteit. Ons bevind ons weens die pandemie in onseker tye en ons vra dat almal veilig bly en die protokols rakende higiëne en sosiale distansiëring nakom. Ons sal voortgaan om ’n vormende rol in die gemeenskap te speel deur ons nakoming van hierdie maatreëls.”

Die KKNK bring sedert 1995 ’n beduidende ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn en die omliggende dorpe. Die Covid-19-pandemie het groot skade aan die plaaslike ekonomie berokken, en daarom sal die KKNK, met die nodige gesondheidsprotokols, en in noue samewerking met onder meer die Wes-Kaapse regering, Oudtshoorn-munisipaliteit, die Oudtshoornse Sakekamer, ander vennote in die streek, borge en donateurs alle moontlikhede ondersoek om in 2021 te kyk na projekte wat nie net die dorp en sy inwoners kan ondersteun nie, maar ook veral die kunstenaarsgemeenskap wat jaarliks van oral kom om feesgangers te vermaak. Die KKNK sal ook nou saamwerk met ander feeste en teaters landwyd om te sien hoe hy al die rolspelers in die Uitvoerende kunste, ’n sektor wat diep getref is in dié tyd, met projekte kan help wat almal se welstand in die nuwe jaar sal bevorder.

“Die aard van die kunstebedryf is om altyd kreatief te dink, en veral nou is progressiewe planne belangrik,” sê Theart. “Die KKNK het reeds in 2020 met ’n verskeidenheid projekte begin wat in die grendeltyd kreatiewe gemeenskappe kon ondersteun. In 2021 sal ons voortbou op die ryk aanbod van aanlyn inhoud en aktiwiteite wat reeds geskep is. Die eerste projekte word in Januarie bekendgestel. Ons is verbind om as organisasie die kunstegemeenskap, die gemeenskap van Oudsthoorn en ook ander vennote te ondersteun. Die KKNK het jare lange borge en donateurs wat ons ondersteun en glo in wat die fees doen. Ons is dus dankbaar dat hulle saam met ons werk om verskillende nuwe moontlikhede oop te maak.”

’n Jaarlange feesviering word vir 2021 beplan, wat verskeie aanlyn musiekkonserte en teateropvoerings, gespreksreekse, meesterklasse, dokumentêre, ontwikkelingsprojekte en meer insluit. Spesiale veilige musiekkonserte en teaterproduksies word ook in Oudsthoorn en ander dele van die land beoog, en dit sal beplan word rondom die nodige veiligheidsmaatreëls.

Media24, stigtersborg van die fees, ondersteun die KKNK se besluit.

“Die Kunste lê Media24 baie na aan die hart, en ons is besonder trots op ons jare lange verbintenis met die KKNK op Oudtshoorn,” sê Ishmet Davidson, uitvoerende hoof. “Dit is immers waar al Afrikaans se ryke versameling landwye kunstefeeste hul beslag gekry het.

“Hartlike dank aan die KKNK-span en -direksie vir die harde werk om hierdie vlagskip-fees lewend te hou. Ons het groot waardering vir die verantwoordelike manier waarop hulle dit in hierdie moeilike tye bestuur – teenoor die Kunste, die velerlei kunstenaars wat betrokke is en die mense van die kontrei. Ons staan steeds bankvas agter die fees.”

Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, sê die uitstel van die KKNK is onvermydelik gegewe die tweede golf van die Covid-19-pandemie. “Ons moet dié geleentheid gebruik om dit wat die dorp andersins bied ten toon te stel en te bemark. Met die hulp van die KKNK se direkteure en borge sal ons momentum behou met ’n verskeidenheid projekte wat sal help om Oudtshoorn en die Kunste ’n baken te maak in die kunstelandskap.

Kunstenaars wat reeds aansoek gedoen het vir die 2021-fees se voorstelle sal steeds gedurende die komende jaar oorweeg word, en aansoekvorms vir verdere voorstelle is steeds bekikbaar op die KKNK se webwerf. “Absoluut enige voorstel is welkom – dink uit die boks!” sê Theart. “Want dis wat 2020 ons geleer het – dink nuut en doen nuut.”

Besoek die KKNK se Facebookblad, of die webwerf by kknk.co.za om op die hoogte te bly van die nuutste nuus en gebeure.