Sy sal haar pa onthou as iemand wat uit sy pad gegaan het om ander te help, het Deslynne Malgas, jongste dogter van die bekende sportman Desmond Malgas (77), Saterdagoggend tydens sy gedenkdiens in die Weyers Memorial United Congregational Kerk op Oudtshoorn gesê. Vir die wêreld mag hy ’n sportikoon gewees het, maar vir hulle was hy net Dena, ’n pa wie se liefde en toegewydheid aan sy kinders en vrou geen perke geken het nie.
Malgas, wat in 1971/72 lid was van die Protea-rugbyspan wat in Engeland en Nederland getoer het, is op Sondag 20 Desember in die Mediclinic Klein Karoo dood na ’n hartstilstand.
“My pa was ’n geseënde man omdat hy andere geseën het. Hy het ’n hart van goud gehad en was ’n ware vriend in nood.”
“Hy het ons as kinders die liefde van God gewys – altyd welkom, altyd bereid om te help, dikwels deur ver agteroor te buig om probleme op te los. Maar terselfdertyd het hy alles gegee om sy kinders te bemagtig om onafhanklike volwassenes te word.
“Wat ons van Denna geleer het, is dat die lewe kort en brutaal is en die beste manier om alles te beveg ’n lekker lag is en die vermoë om die klein oomblikke van geluk te geniet.”
Haar pa het sy loopbaan as elektrisiën begin toe hy op 16 by sy pa se besigheid aangesluit het en homself as elektrisiën bekwaam het. Daarna het hy sy eie besigheid begin wat hy uitgebou het tot ’n suksesvolle, gesonde en goed geoliede familiebesigheid wat hy as nalatenskap vir hulle agterlaat.
Sy het vertel van sy gewoonte om vieruur in die oggend op te staan en elke kind te bel om op hoogte te kom van hul doen en late, sy vrese en bekommernis te deel en raad te gee.
“Toe dit begin afneem, was die tekens daar dat sy gesondheid besig was om agteruit te gaan.”
Een van Malgas se broers, Godfrey, het in sy huldeblyk gesê dat hy (Desmond) en sy pa van die hardwerkendste mense was wat hy geken het.
Ds Donald Moos het gesê hy sal Malgas onthou vir die reguit mens wat hy was.
“Jy het geweet waar jy met hom staan.”
Malgas word oorleef deur sy vrou, Helene, ses kinders – Joanne, Mariaan Brooks, Nola Peceur, Phillida Malgas- Kelpin, William, en Deslynne, 11 kleinkinders en een agterkleinkind.
Hy sal op 10 Januarie veras word. (Deur Garnett Wicomb)