COVID-19 het op Nuwejaarsdag die lewe van die beminde hoof van die Departement Korrektiewe Dienste (DKD) op George geëis.
Jan Tieties (58) was die hoof en kapelaan van DKD op George.
Tieties was bekend as ’n passievolle mens in alles wat hy aangepak het. Hy het hom ook as pastoor in die AGS-Kerk bekwaam.
Tieties sal in Ladismith waar hy gewoon het, veral onthou word as ‘n kampvegter teen die apartheidsregering. Sy jarelange buurman en vriend, Keith Meyer, vertel Tieties, of Ti soos hy onder vriende bekend was, was opgewonde oor sy nabye aftrede as bewaarder.
“Ti het my opgewonde van sy aftreeplanne vertel. Hy het egter God in sy beplanning geken. My buurman was ‘n redenaar soos min en dit het veral sy politieke opponente warm onder die kraag gehad. Elke gesprek met hom het sy gespreksgenote ryker agtergelaat.”
Jan Tieties, woordvoerder van die familie, het sy oom en naamgenoot as die steunpilaar van die familie beskryf.
“My oom was my mentor en met sy hulp kon ek my as opvoeder bekwaam. ’n Rots het geval, die Suid-Kaap verloor ’n reus,” het hy merkbaar aangedaan gesê.
In gesprekke met van sy kollegas vertel hulle dat Tieties onthou sal word as ’n gemeenskapsmens, ’n leier wat vertroue en respek afgedwing het, en ’n allemansvriend.
Begrafnisreëlings word vir Saterdag 9 Januarie 2021 op Ladismith getref en sal streng volgens Covid-19-regulasies geskied. Reëlings sal op sosiale media en Eden FM bekend gemaak word. (Deur Deon Meyer)
