Mans vasgetrek met R22 000-battery

Die gesteelde battery. Foto: www.saps.gov.za

TWEE mans is laat Saterdagaand (23 April) deur polisie in hegtenis geneem nadat hulle in Voortrekkerweg opgemerk en voorgekeer is met ’n hoëspanningsbattery – wat vermoedelik in die telekommunikasiebedryf gebruik word – in hul besit.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die 24-jarige en 42-jarige mans omstreeks 23:45 vasgetrek, en sal hulle tereg staan op ’n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Visser sê dat daar nog nie vasgestel kon word waar die battery gesteel is nie, maar dat dit wil voorkom of die soort battery in die telekommunikasiebedryf gebruik word.

“Die waarde van die battery is hoog, maar die presiese bedrag is nie in hierdie stadium bekend nie.”
Luidens ’n persverklaring op die Suid-Afri­kaanse Polisiediens se webblad is die mans deur lede van die Eden-kluster Misdaadbestrydingspan voorgekeer en bly hulle in aanhouding nadat hulle op 25 April in die hof verskyn het.

In hierdie verklaring word die waarde van die battery op R22 000 geskat. (Deur Stefan Skapie Goosen)