DIE Oudtshoorn Besigheidskamer, Oudtshoorn en De Rust Toerisme en Agri Klein Karoo het verlede Donderdagaand (21 April) ’n gesamentlike netwerkaand by Surval Olyflandgoed buite Oudtshoorn aangebied om die belangrikheid van same- werking in die kollig geplaas.
Laubscher Coetzee (verteenwoordiger van Agri Klein Karoo by Agri Wes-Kaap), Abri Ferreira (voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer) en Tammy Moult (voorsitter van Oudtshoorn en De Rust Toerisme) het in ’n informele gesprek gesels oor onder meer die ekonomiese toekoms van Oudtshoorn en hoe belangrik dit is vir verskillende sfere van die Groter Oudtshoorn-ekonomie om saam te werk om vooruitgang te verseker.
Juis omdat Oudtshoorn se ekonomie in ’n groot mate staatmaak op die landboubedryf, sake-sektor en toerisme, het die drie organisasies die boodskap oorgedra dat die herstel en ontwikkeling van Oudtshoorn se ekonomie van kardinale belang is vir vooruitgang in die dorp.
Al drie sprekers was dit eens dat die sektore wat hulle verteenwoordig, toegewyd is om hierdie vooruitgang te ondersteun.
Ook teenwoordig by die netwerkaand was ontwikkelaars wat reeds beplan om in Oudtshoorn se ekonomie te belê.
Al is daar nie baie uitgebrei oor die ontwikkelings of wanneer dit gaan afskop nie, het ’n skyfievertoning wat tydens die gesprek op skerms aan beide kante van die verhoog gespeel het, ’n behuisingsontwikkeling en ’n winkelsentrum getoon.
Die behuisingsontwikkeling sal onder meer ’n woonbuurt asook ’n Alzheimer- en versorgingseenheid huisves, terwyl die skyfies oor die inkopiesentrum getoon het dat ankerhuurders se name reeds op die bouplanne verskyn.
Daar is ook genoem dat die Oudtshoorn Besigheidskamer self verlede week by ’n nuwe samewerkingsinisiatief vir die Suid-Kaap betrokke geraak het.
Dit behels dat sakekamers van regoor die Tuinroete naamlik Stilbaai, Mosselbaai, Knysna, Hessequa, George, Pacaltsdorp, Thembalethu en Ladismith – sal saamwerk om die streek se ekonomie te bevorder en te ontwikkel.
Dié inisiatief is egter nog in ’n baie vroeë stadium, en verdere inligting sal bekend gemaak word soos dit beskikbaar gestel word. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Besigheidskamer, Toerisme en Agri Klein Karoo hou saam netwerkaand
Die nuwe lede wat Donderdagaand (21 April) by die Oudtshoorn Besigheidskamer aangesluit het saam met Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer (heel links) en Helene Badenhorst, ondervoorsitter (heel reg), is van links Jaco van Jaarsveldt van Mega Auto Service, Pieter du Plooy van Piet’s Crazy Pets, Hannes Visser van Turksvy-publikasies, en Giovanni Bouwer van KarooTuin Kwekery. Foto: Stefan Skapie Goosen