‘Ek was van kleins af ’n drama queen!’

Mirinda Ntantiso in ’n toneel uit Op hierie dag. Foto: Hans van der Veen

Mirinda tuis met haar Kanna-beeldjie. Foto: Liesel le Roux

“EK was van kleins af ’n drama queen wat wou optree in konserte! Ek was nog altyd lief vir sing en dans,” vertel Mirinda Ntantiso Maandagoggend laggend oor hoe haar pad na ’n gesogte Kanna-beeldjie geloop het.

Mirinda, wat Vrydagaand in Kaapstad vanjaar se Kanna-toekenning vir die beste opkomende kunstenaar by die KKNK ontvang het, is bekroon vir haar vertolking van die rol van Auntie Koelie in die teaterproduksie Op hierie dag. Sy was ook vanjaar ’n benoemde in die kategorie vir beste vroulike byspeler by die KKNK.

Mirinda was sedert 2001 al by talle produksies betrokke, maar sê sy is verder net ’n huisvrou van Smartietown in Oudtshoorn, vrou van Lindani en ma van twee seuns, Leighton (16) en Jaylin (13), en ’n dogter, Lindiwe (7).

Sy het in 1999 in haar graad 11-jaar ’n oudisie afgelê vir Struisvogelstories, ’n jeugwerkskeppings- en bemagtigingsprojek van die Kango Volstruisplaas buite Oudtshoorn. Kort nadat sy in 2000 matriek aan die Hoërskool Môrester voltooi het, het sy in 2001 by dié projek betrokke geraak en was daarna tot in 2017 betrokke by verskeie produksies onder die leiding van dr Salome Combrink van Karos en Kambro.

Dit sluit in produksies soos Starwalkers, Journey to Kannaland en Journey to Cape Town, wat oor die land op die planke was.

Om in produksies op te tree, was jare lank haar werk, vertel sy.

Sy het ook ’n rolletjie vertolk in Jans Rautenbach se laaste rolprent Abraham, ’n geleentheid wat sy as ’n wonderlike ervaring bestempel.

Marinda sê sy het toevallig by Op hierie dag betrokke geraak.

“Ek het nie geweet van die oudisies nie. Ek was een dag besig om die erf hier voor die huis skoon te maak toe Glenisha Tarentaal, wat by die projek betrokke is, verbyloop en my nader roep.

“Sy het my van die oudisies vertel en ek het dadelik gegaan. Ek was nie eens voorbereid nie en moes improviseer, maar toe was daar ’n tweede en ’n derde call back…”

Sy vertel dit was vir haar baie belangrik om vir haar rol as Auntie Koelie, die vrou op wie se karakter die rol gegrond was, te gaan ontmoet. Sy sê sy was in daardie stadium in rou ná die selfdood van ’n jong familielid, en dat hierdie besoek haar ook gehelp het om heling te kry.

“Ek het gevind daar is nogal ooreenkomste tussen my en haar, en ek kon met haar relate.”

Voor ’n optrede is dit vir Mirinda belangrik om te fokus.

“Ek vergeet van Mirinda, en ek word Auntie Koelie.”

Mirinda sê dit was vir haar ’n ongelooflike ervaring om saam met die regisseur Neil Coppen te werk en dat almal betrokke ’n familie begin word het wat mekaar aangevul het.

“Die week van die fees was amazing. Ek was lus vir werk. Dit was fantasties. Ek was super exi-ted!”
En Vrydagaand was vir haar ’n hoogtepunt wat sy nooit sal vergeet nie. “Ek was voor die tyd erg op my senuwees en beangs, en toe ek die toekenning wen, het ek gehuil en gelag!

• Op hierie dag handel oor fragmente uit die Oudtshoorn-omgewing se ongeskrewe en soms onvertelde geskiedenis. Die produksie is die geesteskind van die visuele kunstenaar Vaughn Sadie en teatermaker Neil Coppen, en spruit uit die Karoo Kaarte-projek waartydens meer as veertig onderhoude met inwoners van die dorp gevoer is. Dit beslaan meer as 1000 bladsye se navorsing om byna vergete verhale wat deesdae nie meer van generasie tot generasie oorgedra word nie, uit te beeld. (Deur Liesel le Roux)