Besigheidskamer wil fokus op ekonomie en groei van Oudtshoorn

Abri Ferreira, nuwe voorsitter van die Oudts­hoorn Besigheidskamer. Foto: Liesel le Roux

DIE Oudtshoorn Besigheidskamer wil ’n positiewe rol op Oudtshoorn speel. Die kamer wil daarom fokus op die stimulasie van die dorp se ekonomie tot voordeel van al sy inwoners, en saam­werk met die twee grootste plaaslike besigheidsektore, landbou en toerisme.

So sê Abri Ferreira, wat einde Februarie tot die nuwe die voorsitter van die Besigheidskamer ver-kies is. Ferreira is ’n direkteur van Alert Patrol op Oudtshoorn,

“Daar is baie om oor positief te wees op Oudts­hoorn, met talle projekte in die pyplyn wat die dorp se ekonomie kan stimuleer en meer mense hier­heen kan lok. Dit sal tot voordeel wees van die dorp en sy inwoners.”

Hieronder tel ’n groot nuwe winkelsentrum in Rademeyerstraat wat die potensiaal het om meer as 600 werksgeleenthede te skep, ’n moontlike woonontwikkeling met meer as 400 huise langs die Welgeluk-pad en die Pepperwood-ontwikke­ling in Albertstraat.

Ferreira se die kamer probeer ’n ondersteu­nings-rol speel om beleggings na die dorp te lok asook te baat by die emigrasie van Suid-Afrika­ners na die Suid-Kaap.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer was voorts verlede week betrokke by die stigting van ’n streeksakekamer, die Garden Route Business Fo-rum. Die dorpe betrokke is Oudtshoorn, Stilbaai, George en Mosselbaai.

Ferreira sê die Oudtshoorn Besigheidskamer wil ’n ontwikkelingsmomentum op die dorp vestig om landbou en toerisme te stimuleer.

“Ons dorp het landbou en toerisme nodig. Ons moet byvoorbeeld alles in ons vermoë doen om ­toerisme-attraksies soos die Kango Grotte te bevorder, en so ook landbou-inisiatiewe.

“Ons wil ook daarop fokus om ons dorp te bemark en meer mense na die dorp te lok om hulle hier te kom vestig. ”

Hy sê die besigheidskamer ondersteun ook graag inisiatiewe soos die KKNK op Oudtshoorn en het daarom vanjaar die eerste keer een van die Kannapryse geborg.

“Ons is trots om op so ’n manier met die fees geassosieer te word en so te wys Oudtshoorn is dankbaar dat dit hier plaasvind.

“Ons glo dit is belangrik om geleenthede wat op die dorp plaasvind, soos feeste en byeenkomste, te ondersteun.”

Ferreira sê hy wil ook inwoners aanmoedig om op die positiewe te fokus en negatiewe kommentaar op Facebook te staak. “Los eerder probleme met ander tussen mekaar op.” (Deur Liesel le Roux)