Wat beteken goeie kliëntediens vir jou?

Deur Hannelie Rix

Wat beteken goeie kliëntediens vir jou? Word dit ervaar in die vriendelikheid waarmee jy bedien word? Of lê dit in die spoed waarmee ’n taak afgehandel word?

Hoe dit ookal sy, kliëntediens is ’n onderwerp waaroor daar daagliks gesels word en nog meer so wanneer daar rede is om krities te wees.

Weet jy wat die werk behels wanneer jy daarvoor aansoek doen? Verstaan jy die basiese beginsels wat jou nuwe werk van jou gaan vereis?

Ja, werk is baie skaars en ons het almal ’n inkomste nodig. Indien jy nie self ’n geleentheid­skepper is nie, sal jy altyd afhanklik wees van ’n werkgewer se goedgesindheid. Maar dan is dit belangrik om te verstaan hoekom jy in die pos is waarin hy of sy jou aangestel het.

Dienslewering sluit drie belangrike kenmerke in: professionaliteit, geduld en ’n gesindheid waar die kliënt se behoefte altyd eerste gestel word.

Professionaliteit fokus op die manier waarop jy, as diensleweringsagent, jouself handhaaf en hoe daar met die kliënt ge­praat word.

Op die platteland word ons grootgemaak om ’n ouer persoon as oom en tannie aan te spreek. En ja, daar is respek in dié informele aanspreekvorm, maar die streep moet getrek word sodra jy oor die drumpel van jou werksomgewing tree.

Hou dus by meneer, mevrou of mejuffrou, tensy jy ’n kliënt persoonlik baie goed ken of hy of sy jou vra om hom of haar anders aan te spreek.

Geduld is ’n waardevolle deug. Die dienslewe­ringsbedryf is by uitstek een van die moeilikste beroepe waarin jy jou kan bevind.

Gelukkig kan geduld aangeleer word en wanneer jy hierdie vaardigheid ten volle bemeester het, kan jy jouself op die skouer klop. Geduld loop ook hand aan hand met jou vermoë om jou gesigsuitdrukking en lyftaal goed te bemeester. ’n Strak gesigsuitdrukking wat jou negatiewe gevoelens wys, kan maklik ’n sneller vir die kliënt se frustrasie wees.

’n Groot naam in besigheid het eendag gesê: “’n Persoon wat by my aansoek doen vir werk, hoef nie noodwendig ’n formele kwalifikasie te hê nie, maar met ’n goeie gesindheid kan ek hom byna enige iets leer.”