Mans mars teen geweld

OUDTSHOORN se burgemeester, Chris Macpherson, nooi alle mans van Oudtshoorn uit om op Saterdag 10 Desember 08:30 by die Bridgton Sportgronde byeenkom te kom.

Vandaar sal die optog om 09:00 begin en die mans stap na die Bongolethu polisiestasie, waar ‘n memorandum aan vroue oorhandig gaan word.

In die memorandum onderneem mans om die geweld teen vrouens stop te sit. Hierdie inisiatief sluit aan by die 16 dae van aktivisme van geweld teen vroue en kinders.

Na afloop van die oorhandiging sal die mans en vroue wat wil aansluit, terugstap na die Bongolethu sirkel, terug na die sportgronde toe.

Daardie aand sal die kersliggies om 19:30 aangeskakel word. Oudtshoorniete wat dit wil bywoon kan bymekaarkom op die oop stuk grond langs die museum.

Die aanskakel van die liggies word as simbool gedoen dat mans onderneem om geslagsgeweld stop te sit.

Saterdag het ook verder ‘n spesiale betekenis deurdat dit internasionale menseregtedag is, en ook die dag is waarop Suid-Afrika se grondwet 26-jaar gelede onderteken is. (Deur Angelique Erasmus)