Man kry 12 jaar vir verkragting en menseroof van 22-jarige

’N MAN van Oudtshoorn met 43 vorige veroordelings wat aan ver-kragting en menseroof skuldig be­vind is, is dié week in die Oudts- hoorn Streekhof 12 jaar gevangenisstraf opgelê.

Die 47-jarige Johannes Booysen het onskuldig gepleit en ontken dat hy die 22-jarige klaer verkrag het.

Volgens hom het hy die betrokke aand saam met die klaer en nog ander mense by ’n vuur gestaan toe sy hom vra om saam met haar huis toe te stap omdat sy bang was vir haar voormalige kêrel.

Onderweg huis toe het hulle uitgedraai om tik te gaan koop waarna die klaer hom glo seks belowe het.

Hy het ontken dat hy haar aan haar arm getrek en met ’n mes gedreig het toe sy nie verder saam met hom wou stap nie.

Die klaer het getuig dat die beskuldigde – terwyl hy verhoorafwagtend was – mense na haar gestuur het om haar te dreig en geld aangebied het om die saak te laat vaar.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir ten minste tien jaar tronkstraf vir verkragting gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om ’n ligter vonnis op te lê nie.

“Die beskuldigde het ’n kriminele rekord wat 30 jaar gelede begin het en het nog glad nie verbeter nie.

“Die gemeenskap moet teen mense soos hy beskerm word en dit is verswarend dat hy geen teken van berou toon nie.

“Verkragting is baie keer erger as moord,” het Smith gesê.

Booysen se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof gevra om in ag te neem dat hoewel die be­skuldigde ’n ellelange lys van vorige veroordelings het, hy nog nie voor­heen vir verkragting of menseroof voor die hof was nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Booysen se getuienis verwerp en die weergawe van die klaer as betroubaar aanvaar.

“Die klaer se getuienis is meer waarskynlik as dié van die be­skuldigde.

“Geen toestemming vir seks nie, is verkragting,” het sy gesê.

“Die klaer het inbraak gemaak op die klaer se vryheid.

Hy het ’n storie opgemaak en hom op die klaer afgedwing.”

Booysen is gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf vir verkragting en twee jaar vir menseroof.

Hy is deur die landdros ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)