DIE bestuurder van die motor waarin ’n 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, het Vrydag weer vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Sydney Berry (23) van George staan tereg op klagtes van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen na ’n botsing,
Die motor waarin Marilize ’n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland.
Berry het toe glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Marilize was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is.
’n Nadoodse ondersoek het bevind dat Marilize verdrink het.
Landdros René Gerber het die saak Vrydag vir instruksies aan sy regsverteenwoordiger, Bulelani Bans van Dercksens Prokureurs, Knysna, tot 26 Februarie 2021 uitgestel. Berry is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)
Berry weer slegs vlugtig in hof
Die voertuig waarin Marilize Nortier op 22 September 2019 gesterf het. Foto verskaf