DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van openbare geweld nadat sowat 250 mense Sondag in Dassieweg in Bridgton saamgedrom en klippe gegooi het. ’n Aantal mense is ook in hegtenis geneem vir die besit van gevaarlike wapens.
Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 10:15 ontbied nadat die mense daar begin vergader het. “Die publiek het klippe na polisievoertuie gegooi, waarna nog polisiebeamptes ontbied is,” het sy gesê.
Michaels sê inwoners was ongelukkig oor vensters van ’n woning in Die Lane wat uitgegooi is, terwyl die huis ook beskadig is.
Inwoners wat gevra het om anoniem te bly, sê die bakleiery het tussen bendes van die gebied ontstaan.
“Blykbaar was twee mans van verskillende bendes in ’n bakleiery verlede week, en het die een die ander se ma se huis beskadig en die vensters stukkend gegooi. Toe raak die ander man kwaad en wil hy die wat daarvoor verantwoordelik was, terugkry,” het ’n inwoner gesê.
Mense het glo in ’n stadium pangas (kapmesse), messe en sommer byle in die straat uitgedeel.
“Die polisie het mense gewaarsku om nie foto’s of video’s te neem nie.”
Mense was die dag glo te bang om selfs winkel toe te loop, en kinders is gewaarsku om tuis te bly. (Deur Stefan Skapie Goosen)