Meshoa-vonnis wag eers vir verslag van korrektiewe dienste

Werner Meshoa. Foto Facebook

DIE saak die speaker van die Kannaland Munisipaliteit, Werner Meshoa (Icosa), is volgens Zizi Hani van die Valke tot 26 Februarie uitgestel vir ’n verslag van korrektiewe dienste.

Meshoa is op 19 Januarie in die Ladismith Streekhof skuldig bevind op klag­tes van bedrog en dwarsboming van die gereg met vonnisverrigtinge wat aanvanklik gekeduleer was vir 29 Januarie.

Die ondersoek van die Valke se Eenheid vir Ernstige Handelsmisdaad in George het getoon dat Meshoa ’n vals reis-eis van net meer as R4 000 ingedien het vir ’n vergadering in Kaapstad van 16 tot 21 Oktober 2016. Die klagte was voorts dat Meshoa hierna die oortreding probeer verbloem het deur ’n vriend en familielede te oortuig om vals beëdigde verklarings af te lê dat sy voertuig in daardie tydperk gebreek het toe hy die vergadering moes bywoon.

Dawid Kamfer, provinsiale leier van Icosa, sê Icosa se regsverteenwoordiger is besig om deur hofstukke te gaan en dat ’n persverklaring uitgereik sal word sodra die regsproses afgehandel is.
Meshoa sal na verwagting teen sy vonnis appelleer. (Deur Liesel le Roux)