Pornografiesaak teen oud-polisielid vir slotbetoë uitgestel

DIE verhoor van ’n voormalige polisiebeampte van Oudtshoorn wat tereg staan op 200 aanklagte van kin­derpornografie, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof vir slotargumente tot 4 Maart uitgestel.

Die staat het sy saak na die getuienis van ’n pornografiedeskundige van Pretoria gesluit.

Dale Mackintosh (64) word daarvan aangekla dat hy in Desember 2018 in besit was van ’n film of pu­bli­kasie wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpor­nografie bevat.

Hy is in 2019 in hegtenis geneem nadat sy gewese vrou glo sy tablet­rekenaar na die polisie geneem het toe sy die foto’s daaroop ontdek het
Hy pleit onskuldig op al die klagtes. In sy pleitverduideliking er­ken hy dat hy die foto’s afgelaai het, maar nie bewus was dat die kinders op die foto’s minderjarig is nie.

Die staat het sy saak na die kruisondervraging van die des­kundige, Mmaletjema Poto, gesluit.

Adv Michelle Weyers verskyn vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde. Hy is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)