DIE saak teen ’n man van De Rust wat tereg staan op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede nadat hy glo ’n 70-jarige vrou helder oordag in ’n stillerige straat beroof het, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak tot later die maand uitgestel.
Alfonzo Malgas (24) word van roof met verswarende omstandighede aangekla nadat hy na bewering op 17 Februarie 2020 vir Valerie Steyn (70) in Vredestraat van agter genader en haar handsak met haar selfoon, beursie en ander besittings gegryp het.
Hy het haar later glo met ’n klip teen die kop gekap en met die handsak weggehardloop, maar is nog dieselfde dag in hegtenis geneem.
Die skraalgeboude Steyn het Woensdag getuig dat sy die betrokke oggend onderweg was huis toe en kortpad met ’n grondpad gekies het, met huise aan die een kant en bosse aan die ander kant.
Sy het voetstappe agter haar gehoor en skielik gevoel iemand gryp haar handsak.
Malgas het volgens haar gesê “Gee, gee” en in die stoeiery het sy geval en haar gewrig gebreek. Malgas het toe ’n groot klip opgetel en haar daarmee teen haar kop gekap. Haar kop was nie stukkend nie, maar het vinnig geswel.
Sy kon ’n beskrywing van haar aanvaller aan die polisie gee en het nog dieselfde dag haar besittings teruggekry.
Malgas erken in ’n pleitverduideliking dat hy die vrou van haar handsak en besittings beroof het, maar nie dat hy haar met ’n klip gekap het nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof gevra dat Malgas skuldig bevind word.
Hy het gesê dat die klaer by haar weergawe gehou het. “Volgens haar is die klip waarmee sy gekap is, ’n gevaarlike wapen. Sy het ’n besering aan haar arm opgedoen en ’n gewrig gebreek.”
Malgas se reghulprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek dat hy net aan gewone roof skuldig bevind moet word.
Volgens Botha sou ’n mens ernstige beserings verwag het indien die klaer met ’n groot klip soos wat sy verduidelik het, teen die kop gekap is.
Dit was egter nie die geval nie. Sy het haar gewrig in die stoeiery om die handsak gebreek, maar dit was nie die beskuldigde se bedoeling om haar seer te maak nie, het hy gesê.
Streeklanddros Sylvia Mandla het aan Malgas verduidelik dat hy tussen 15 en 20 jaar tronkstraf opgelê kan word indien hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind word en die saak vir uitspraak tot 27 Februarie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)