Ma in plas bloed gevind; seun in hegtenis geneem

DIE dood van ’n geliefde inwoner van Smartie Town wat met steekwonde in haar huis gevind is, het die afgelope week skokgolwe deur dié woonbuurt in Oudts-hoorn gestuur.

Die oorledene was Shirley Witbooi (64) wat verlede Donderdag (1 September) dood in ’n plas bloed op die vloer van haar huis in Sipho Kromalaan gevind is.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 19:00 die aand plaasgevind.

“Die polisie het ’n oproep ontvang oor ’n vrou met steekwonde in haar woning.

“Met die polisie se aankoms op die toneel is die vrou dood verklaar,” het sy gesê.

Volgens Michaels is die verdagte in die moord Witbooi se seun.

“Hy is by ’n woning daar naby gevind nadat omstanders gesê het hy is daar.

Hy is in hegtenis geneem.

Volgens Michaels ondersoek die polisie tans ’n klagte van moord.

Die oorledene se man, Karel Witbooi, is na verneem word afhanklik van ’n rolstoel en was nie tydens die voorval tuis nie.

Blyke van medelye het na Witbooi se dood bekend geword het, ingestroom na die Facebook-blad Oudtshoorniete staan saam.

Geskokte en hartseer inwoners het haar bestempel as ’n vrou met die mooiste hart wat altyd vriendelik en op haar plek was.

Sy het niemand gepla nie. Altyd net ’n geselsie aangeknoop, skryf Catherine de Laan.

U was ’n ma-figuur vir ons almal, skryf Bianca Heyman Dido en Mirinda Visman. (Deur Stefan Skapie Goosen)