Sy het lig in die wêreld versprei

Nicole Mienie: 13/01/2001 – 30/08/2022 “Arise and shine; For the light has come! And the glory of the Lord is risen upon you!” (Jes 60:1) “Be a light for all to see! (Matt 5:16 ) Foto en onderskrif deur Nicole se gesin verskaf

“NICOLE het lig in die wêreld versprei. Daar waar sy gegaan het, het sy met haar aansteeklike persoonlikheid en lekker lag vreugde gebring!”

So het Nicole Mienie (21), die jong vlieënier wat op Dinsdag 30 Augustus saam met ’n Duitse gesin in ’n vliegongeluk gesterf het, se pa Nico vandeesweek na sy jongste dogter verwys.

“Ons harte is seer en die gemis is daar, maar ons leef in oorwinning dat sy haar lewe gelééf het en dit wat sy vir ander kon doen, gedoen het terwyl sy die geleentheid gehad het om ’n verskil te maak. Haar liefde vir haar Skepper en haar goed doen het geen einde geken nie!”

Nicole is in Pretoria gebore, maar het op Oudtshoorn grootgeword en 18 jaar lank hier gewoon.

“Sy het geblom op die platteland en ’n ongelooflike tyd op Oudtshoorn ervaar,” sê haar pa.

“Dit was dié beste tyd van haar lewe en elke dag het nu­we geleent­hede gebring. Sy het op 17 gematri­kuleer en kort daarna begin om haar as vlieënier te bekwaam. Haar lewe was vlieg en die afgelope vier maan­de het sy die voorreg gehad om in haar geliefde Namibië te kon vlieg!

“Ons as gesin wil elke persoon in hierdie pragtige dorp van ons, asook in die uit­hoeke van ons mooi land en oor grense heen, uit ons harte bedank vir elke gebaar van omgee, oproepe en boodskappe ontvang en bowenal al die liefde aan ons betuig in hierdie afskeidstyd!

“Ons eer die Here vir die absolute voorreg wat ons gehad het vir die tyd wat Nicole aan ons geleen is.

“Laat ons voortleef en haar na­latenskap in getuienis verander, terwyl die genade-deure oopstaan!”
Benewens haar pa, word Nicole oorleef deur haar ma, Alicia, en ’n suster, Carmen. Daar is nog nie reëlings vir ’n gedenk­diens vir Nicole bekend gemaak nie.

• Die oorsaak van die on­geluk waarin ’n Cessna Centurion C210 van Scenic Air in die Zambesirivier neergestort en die lewens van Nicole en ’n Duitse gesin van vier geëis het, word nog deur die Directorate of Aircraft Accident Investigation ondersoek.

Michael Böttger, besturende direkteur van Scenic Air, het sy medelye aan die families en vriende van die oor­ledenes oorgedra en gesê almal by Scenic Air is verpletter deur die tra­giese ongeluk. (Deur Liesel le Roux)