
Die top drie Elite Mansspanne.

Die top drie Elite Vroue-spanne.
TYDENS die prysuitdeling van die Momentum Medical Scheme Cape Pioneer Trek, aangebied deur Biogen, se vierde skof Donderdagaand (8 September) op Langenhoven Gimnasium se sportvelde, is Oudtshoorn goed onder die top-deelnemers verteenwoordig met bekende Oudtshoorniet Yolande de Villiers en haar spanmaat Stephanie Wohlters wat die dag se rit in tweede plek voltooi het, en ook algeheel tweede staan in die Elite Vroue-klas.
Deelnemers aan hierdie immergewilde en uitmergelende bergfietsren sal tussen vandag (Vrydag) en môre (Saterdag) die laaste skof klaarmaak, met die eindpunt voor die Queens Hotel in Voortrekkerweg op Oudtshoorn.
Tydens Donderdagaand se prysuitdeling is die top-drie ruiters of spanne van die vierde skof, in elke klas, aangewys tesame met die algehele top-drie in elke klas. Skof 4, wat fietsryers oor 92 km van Louvain Gasteplaas na Oudtshoorn geneem het, het ook ‘n uitputtende 1 650 m se klim ingesluit.
Wessel Botha en Rudi Koen (Team Imbuko DEV B) het die skof gewen in die Elite Mans-klas, maar moes in die algehele ranglys terugstaan vir spanmaats Marco Joubert en Pieter du Toit (Team Imbuko DEV A) in eerste – wat die dag se skof in tweede plek voltooi het – en Arno du Toit en Keagan Bontekoning (Team Insect Science Pro) in tweede.
Die Elite Vroue-klas Skof 4-wenners was Theresa Ralph en Kim le Court (Team Efficient Insure Infiniti Racing), wat hul algehele eerste plek versterk het. Hulle is in beide die dag se skof- en algehele ranglys gevolg deur De Villiers en Wohlters (Team Madmacs/Coopetto/Bester Performance) in tweede en Ila Stow en Robyn Williams (Team Clickatell) in derde.
Besoek www.capepioneer.co.za vir meer inligting en uitslae. (Deur Stefan Skapie Goosen)