Lillani Nel skitter met 90,1%

Lillani Nel (18)... toppunte in Klein Karoo.

SY is nie net Langenhoven Gimnasium se toppresteerder in die afgelope matriekeksamen nie, maar Lillani Nel (18) is met ’n gemiddelde persentasie van 90,1% ook die Klein Karoo se topmatrikulant van 2021.

Lillani, wat verlede jaar haar skool se Dux-leerder was, het onderskeidings in sewe vakke behaal, naamlik in Afrikaans huistaal, Engels eerste addi­sio­nele taal, wiskunde, lewensoriëntering, besig­heid­studies, rekeningkunde en rekenaartoepas­sings­tegnologie.

“Ek wil net graag my famile en vriende bedank vir hul ondersteuning en bydrae deur al die jare,” sê sy. Lillani is die dogter van Marié Nel, ’n oud-lid van die SAPD. Lillani se pa, Tienie, is oorlede toe sy nog klein was.

En dié presteerder is reeds hard besig om aan haar toekoms te werk. Sy vertel: “Ek werk reeds by ’n rekenmeestersfirma en gaan B Rek aanlyn studeer. Rekeningkunde was nog altyd my passie en deur te werk en te studeer kan ek my prakties en alles vinniger klaar maak.”

Volgens Lillani is sy baie lief vir lees en kyk sy ook graag in haar vrye tyd TV-reekse. (Deur Liesel le Roux)