15-jarige verdrink in Kammanassierivier

Fernando Frans (15). Foto deur Hoërskool Môrester gedeel op Facebook.

Die Kammanassierivier buite Oudtshoorn waar Fernando Frans Sondag verdrink het. Foto: Angelique Erasmus

DIE Kammanassierivier by Rooiheuwel buite Oudtshoorn het Sondag (23 Janua­rie) die lewe van ’n 15-jarige seun van dié omgewing, Fernando Frans, geëis.

Fernando was ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Môrester. Hy het klaar­blyk­lik saam met sy ouers geswem toe hy kort na 14:00 in die moeilikheid geraak en verdrink het.

Sy ma woon op die plaas waar hy verdrink het.

Riete wat onder die water groei, maak die rivier glo baie gevaarlik vir swemmers omdat iemand daarin vasgevang kan word en kan sukkel om los te kom.

Fernando se liggaam is later die middag deur ’n polisieduiker gevind.

Hoërskool Môrester waar Fernando ’n graad 11-leerder was, het in ’n inskrywing op die skool se Facebookblad hul mee­gevoel aan die Frans-gesin betoon.

“Leerders, ouers en personeel van die skool is geskok en hartseer oor die verlies van hierdie rustige en stil jongman. Ons harte gaan uit na hier-die gesin, sy maats en al die ander betrokkenes,” lui die inskrywing.

Inwoners van die omgewing was geskok oor die voorval. Een van die inwoners, Racheline Olkers, het hom soos volg op Facebook gegroet: “RIP, seuna, ons almal gaan jou vreeslik mis. Rooiheuwel, Proefplaas en Kammanassie gaan stil wees sonder jou.”

Volgens kapt Louis Visser, woordvoer­der van die Oudtshoorn Polisie, is die Polisie tans besig met ’n geregtelike nadoodse ondersoek. (Deur Liesel le Roux)