Brandewyn en bier kos man baie duur

’N MAN van Dysselsdorp wat aan dronkbestuur en bestuur sonder ’n rybewys skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof opgeskorte vonnisse en ’n stywe boete opgelê.

Die 33-jarige Daniel Soman het erken dat hy op 16 Augustus 2021 bier en brandewyn gedrink het toe hy in Dysselsweg deur die Polisie van die pad getrek is. As gevolg daarvan het hy met die vangwa gebots omdat hy nie betyds kon rem nie.

Volgens Soman het hy besluit om met die geel Kadett huistoe te ry omdat sy neef wat moes bestuur glo “getiep” het by die huis waar hulle gekuier het. Hy het skuld op albei aanklagte beken.

Soman se regshulpprokureur, Wynand Malan, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat hy ’n eerste oortreder is en nie die hof se tyd gemors het nie.

Soman het ’n vaste werk en sorg vir sy meisie en sy twee kinders van onderskeidelik drie en vier maande by twee verskillende ma’s.

Die aanklaer, Leandré Rhodes, het toegegee dat Soman oop kaarte met die hof gespeel het maar nogtans swaar gestraf moet word. “Mense verloor hul lewens in ongelukke wat deur dronk bestuurders veroorsaak word en die gemeenskap is siek en sat daarvoor,” het Rhodes gesê.

Landdros Vaughn Shone het met vonnisoplegging gesê hy het Soman se persoonlike omstandighede vir vonnis in aanmerking geneem. Die ongeluk kon egter tot erge gevolge gelei het en die beskuldigde is gelukkig dat niemand beseer of dood is nie. Die skade aan die vangwa was ook gering. In baie gevalle sterf onskuldige mense terwyl ander groot skade ly, het Shone bygevoeg.

Soman is op die aanklag van dronkbestuur gevonnis tot R5 000 of 12 maande gevangenisstraf waarvan R3 000 of ses maande voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Hy kan reëlings tref om die balans van R2 000 in paaiemente te betaal indien hy nie oor die volle bedrag beskik nie, het die landdros gesê.

Op die aanklag van bestuur sonder ’n geldige rybewys is hy ’n opgeskorte vonnis van R700 of 30 dae gevangenisstraf opgelê, terwyl die hof gelas het dat hy nie binne die volgende ses maande om ’n rybewys aansoek mag doen nie. (Deur Garnett Wicomb)