Lewensmaat van Checkers-bestuurder praat uit na moles

’n Verteenwoordiger van Checkers (wit hemp) teken ontvangs van die petisie langs gemeenskapsaktivis, Leon Campher (regs). Foto: Stefan Skapie Goosen

’N ONLANGSE voorval tussen die bestuurder van Checkers en ’n werknemer het vandeesweek verder opspraak gemaak op Oudtshoorn toe die personeel van die winkel, bygestaan deur ander inwoners en ook gemeenskapsaktivis Leon Campher, op Vrydag 31 Maart ’n petisie met werknemers se griewe teen die einste bestuurder aan ’n verteenwoordiger van die winkelgroep oorhandig is.

Volgens inligting wat Die Hoorn oor die oorspronklike insident ontvang het, is ’n dissiplinêre verhoor en ook ’n hofsaak rakende aanranding op onderskeidelik 22 en 23 Maart gehou.

Die uitslae van die dissiplinêre verhoor is onbekend, en die hofsaak op 23 Maart is na bewering van die hofrol geskrap omdat ooggetuies mekaar weerspreek het.

Die slagoffer, wat as rakpakker by Checkers werk, het met Die Hoorn gedeel dat hy op die dag van die insident hardhandig behandel is deur die bestuurder van die winkel. Sy het hom na bewering gestamp van agter af en rondgeruk terwyl hy besig was om ’n trollie uit die pakkamer te stoot.

Op 25 Maart het dit veroorsaak dat die winkel gesluit is omdat werknemers ontevrede was dat die winkelbestuurder terug op haar pos was die dag.

Die lewensmaat van die winkelbestuurder het Maandag (3 April) aan Die Hoorn vertel dat beide haar vrou, die winkelbestuurder, en bestuurslede van Checkers bewus is dat sy met die media oor die voorval gesels omdat sy graag haar lewensmaat wil verdedig.

“Toe my vrou na Covid-19 en haar vakansie daarna weer begin werk het in Januarie hierdie jaar, toe kom sy die dag by die huis en vertel vir my dat sy tydelik geskors is van die werk omdat sy blykbaar iemand aangerand het. Toe vra ek vir haar ‘wat de hel; iemand aangerand?’. Ek het haar daaroor uitgevra omdat ek weet sy nooit iemand sou aanrand nie,” vertel sy. Sy bieg wel dat haar lewensmaat (die winkelbestuurder) met gesag kan praat en optree die dag wanneer dit nodig is, “maar nie aanrand nie!” het sy bygevoeg.

Sy vertel dat haar vrou wel die beweerde slagoffer, en enige iemand anders, sagkens aan die skouer sal vat en in haar kantoor inlei wanneer daar ’n probleem is waaroor gesels moet word.

“Sy doen dit met al die werkers.”

Volgens die vrou het die hele affêre, en die aandag wat dit tans kry op die dorp, ’n geweldige emosionele invloed op die paartjie.

“Die uitslag van die dissiplinêre verhoor sê ook dat die weergawes rakende die geval van die man en sy twee ooggetuies mekaar weerspreek.”

  • Beide die winkelbestuurder en haar lewensmaat se name, sowel as die beweerde slagoffer se naam, is aan Die Hoorn bekend. (Deur Stefan Skapie Goosen)