“Hy was ’n gewone skaapwagter”

BO: Die groep gemeenskapslede gelei deur gemeenskapsaktivis Leon Campher voor die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Stefan Skapie Goosen Onder: Die oorledene, Abraham Johannes Heradien van Hazenjacht buite Oudtshoorn.

DIE moord op die 60-jarige Abraham Johannes Heradien van Hazenjacht buite Oudtshoorn, in die Dysselsdorp-omgewing, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Sedertdien is daar ’n petisie by die Oudtshoorn Landdroshof ingedien om borgtog vir die beskuldigde in die saak teen te staan.

Heradien is op Dinsdag, 21 Maart dood verklaar op die toneel van ’n padblokkade op die Dysselsdorp/De Rust-pad weens ’n steekwond onder sy linkerarm.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die polisie, het die voorval omstreeks 11:58 op die betrokke dag naby Rosevalley, Oudtshoorn plaasgevind.

Michaels het gesê ’n voertuig met twee insittendes het na bewering by die padblokkade gestop en het die bestuurder van die voertuig gesê sy passasier is beseer en dat hy met hom op pad was hospitaal toe.

“Ambulanspersoneel was op die toneel en het die 60-jarige man dood verklaar. Daar was ’n steekwond onder sy linkerarm,” het Michaels gesê.

Met die indiening van die petisie teen die toelating vir borgtog vir die beskuldigde – Fransisco Erasmus – op Maandag, 3 April, het gemeenskapsaktivis en raadslid van Oudtshoorn Leon Campher wat die optrede en petisie gereël het aan Die Hoorn vertel dat Heradien ’n onskuldige skaapwagter was, wat niemand leed aangedoen het nie.

“Die moord van Abraham was iets heeltemal anders, hy was ’n gewone skaapwagter gewees wat vir hom en sy vroutjie gesorg het deur die oppas van vee in Dysselsdorp. Die vermoede is dat die verdagte misbruik gemaak het van Abraham nadat hy jare-lank met valse intensies na hom en sy vrou omgesien het – hy het vir hulle gaan kuier en selfs vir hulle kos gebring en so aan,” het Campher gesê.

Volgens Campher was die beskuldigde aan Heradien en sy vrou bekend as Frank. “Soos Abraham se vrou, Hester, dit te kenne gegee het, het Frank hom voorgedoen as ’n vriend van hulle. Hy het selfs op ’n latere stadium ’n polis vir hulle uitgeneem. Daar het nou al twee ander mense na vore gekom wat sê die beskuldigde het dieselfde vir hulle gedoen,” het Campher gesê.

Hy het bygevoeg dat hy hierdie persone se inligting aan die polisie oorhandig het. Hy het homself ook reeds jare lank aan hierdie mense voorgedoen as “vriend” volgens Campher. “In een van daardie gevalle is iemand ook oorlede, maar ons kan nie bevestig of Erasmus daarmee betrokke is nie. Ek glo die polisie sal dit ondersoek.”

Na bewering het Erasmus selfs vir Heradien gehelp om aansoek te doen vir ’n SASSA-toelaag.
Campher het gesê dat die vermoede bestaan dat Heradien vermoor is juis omdat daar ’n polis op sy naam was. Hy het bygevoeg dat dit nie seker is of Erasmus as die beguns-tigde op die polis aangeteken is nie, en dat die bankrekening daaraan verbonde op die oorledene se naam geregistreer is. “Die hof sal dit seker later bevestig.”

Op die betrokke dag van Heradien se moord, vertel sy vrou Hester dat die persoon wat hom die dag kom oplaai het as ’n Moslem-vrou vermom was. “Die persoon het volgens Hester baie min gepraat en met die hande beduie,” beweer Campher.

Campher het gesê dat die enigste pad na geregtigheid vir Heradien en ander deur middel van die hof en magistrate is, en daarom is die petisie daar oorhandig. “Ons land staan gebuk onder misdaad,” het hy bygevoeg.

– Sien die volle onderhoud met Campher op Die Hoorn se Facebook-blad.

Garnett Wicomb berig uit die hof dat die beskuldigde – Erasmus, van George – in aanhouding bly nadat dit aan die lig gekom het dat hy op parool was vir ’n vorige oortreding toe hy in hegtenis geneem is vir die moord op die 60-jarige Heradien.

Die saak was Maandag (3 April) op die hofrol vir ’n borgtogaansoek wat die 47-jarige Erasmus wou bring.

Die liggaam van Heradien, met veelvuldige steekwonde, is op Dinsdag 21 Maart, Menseregtedag, deur verkeersbeamptes in die kattebak van die motor van Erasmus op die De Rust-pad naby Rosevalley op Oudtshoorn gevind en hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Erasmus het glo aan die verkeersbeamptes gesê dat hy met ’n passasier op pad na die Oudtshoorn Hospitaal was.

Hy het glo gereeld by die oorledene en sy vrou se huis aangekom en ook vir hulle kos geneem. Die vemoorde Heradien, ’n veewagter, ken Erasmus glo sedert 2019 en hy is glo vroeër die oggend by sy huis deur Erasmus opgelaai.

Landdros Vaughn Shone het die saak Vrydag vir Erasmus se borgprofiel en borgtogaansoek tot Maandag (3 April) uitgestel, wat toe nie plaasgevind het nie.

Campher se petisie teen borgtog vir Erasmus is aan hooflanddros Ryan van Harte oorhandig, wat grootliks deur gemeenskapslede van Dysselsdorp onderteken is.

Die saak teen Erasmus is tot 12 April uitgestel.

Heradien is Saterdag, 1 April, op Volmoed ter ruste gelê. (Deur Stefan Skapie Goosen)