Borgaansoek teen sindikaat uitgestel vir uitspraak

Die saak teen ’n vermeende dwelmsindikaat, sestien verdagtes van Oudtshoorn, Calitzdorp, De Rust, George, Gqaberha, en Kaapstad, waaronder drie vroue, wat tereg staan op altesaam 54 klagtes van handel in dwelms, besit van dwelms en geldwassery, is Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof vir uitspraak in die borgaansoek tot Dinsdag 11 April uitgestel.

Landdros Stephanie Strydom het die aansoeke van agt van die verdagtes, Manfred John, Marshall Mclune, August Wild, Wilber Paulsen, Arlington Hurling, Shawn Hendricks, Emile Jonas en Reginald Fillies aangehoor, terwyl die staat nie die vrylating van Vincent Goba, August Wild, Ann Erasmus, Vivian Arries, Melvyn Jacobs en Vladimer Gordon teenstaan nie.

Madelyne Adams van Calitzdorp is op waarskuwing vrygelaat, terwyl borgtog reeds in ’n ander saak vir Louis Emezuo geweier is.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, vra die hof om nie borgtog aan die agt applikante toe te staan nie omdat hulle tereg staan op ernstige klagtes en die meeste vorige veroordelings op hul rekords het.

Hy wou ook weet hoe hulle oorleef as die meeste van hulle, volgens hul verklarings, sonder inkomste is.

Voorts is dit ook kommerwekkend dat die applikante skriftelike verklarings ingedien het en die staat gevolglik nie die geleentheid gegee is om hulle te kruisondervra nie.

Die regsverteenwoordigers van die agt applikante voer aan dat hulle in belang van geregtigheid op borgtog geregtig is.

Landdros Stephanie Strydom het na die betoë van die applikante se onderskeie regsverteenwoordigers gesê dat sy nou met baie feite voor haar sit en tyd nodig het om dit deur te gaan vir ’n ingeligte beslissing.

Sy het ook bygevoeg dat alhoewel die staat nie die vrylating van ses van die verdagtes teenstaan nie, die hof steeds na hul omstandighede moet kyk.

Die saak is vir uitspraak tot volgende Dinsdag uitgestel.

Borgtog geweier aan vermeende dwelmsmous – sindikaat vervolg
Borgtog is Maandag in die Oudtshoorn landdroshof geweier aan ’n buitelander wat tereg staan op twee klagtes van handel in dwelms.

Die 24-jarige Obiama Louis Emezuo is op 15 Desember 2020 betrap met tik en vyf dae later, op 20 Desember 2020, met byna 2 kg tik in sy besit.

Emezuo het in sy aansoek om borgtog gesê dat hy onskuldig gaan pleit op albei klagtes omdat hy nie kennis dra van die dwelms nie. Hy het tot dusver sy volle samewerking aan die polisie gegee en sal nie met staatsgetuies inmeng nie.

Volgens hom het hy ’n vaste woonadres in Kaapstad en geen hangende saak teen hom nie. Vorige sake teen hom is of van die hofrol verwyder of deur die staat teruggetrek.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het borgtog teengestaan omdat Emezuo nie ’n eerste oortreder is nie en al probeer het om met ’n vals paspoort die land te verlaat.

Landdros Vaughn Shome het bevind dat Emezuo hom nie oortuig het dat dit in belang van geregtigheid is om op borg vrygelaat te word nie.

Die hof het ook in ag geneem dat hy een van die sestien verdagtes is wat op 16 Maart deur die Valke in hegtenis geneem is, en tereg staan op klagtes van handeldryf in dwelms, besit van dwelms en geldwassery.

Die saak dien tans in ’n ander hof waar vyftien van die sestien verdagtes om borgtog aansoek doen.

Die eerste beskuldigde, Manfred John, sê in ’n waarskuwings- verklaring wat Maandag voor beurtkrag, deur sy regsverteenwoordiger aan die hof voorgelees is, dat hy die pa van vyf kinders is vir wie hy sorg.

Hy werk tans vir Aubrey Goliath en verdien R1 500 per week. Hy erken dat hy vorige veroordelings het maar nie almal kan onthou nie. Hy het geen hangende sake teen hom nie en ken ook nie die getuies in die saak nie. Hy weet niks van die klagtes teen hom nie en het tot dusver sy volle samewerking aan die polisie gegee. Sy familie het R5 000 beskikbaar vir borg en hy sal enige borgvoorwaardes wat die hof stel nakom en nie vir sy hofverskynings wegbly nie.

Die saak teen Emezuo is vir ’n streekhofdatum tot 18 April uitgestel terwyl die borgaansoek voor landdros Stephanie Strydom voortduur. (Deur Garnett Wicomb)