Leerkrag se 1ste digbundel hier

Helena Ewert, ’n leerkrag van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, met haar digbundel Grondstof wat pas deur Truksvy Pu - blikasies uitgegee is. Foto: Angelique Erasmus

’N GELIEFDE Afrikaanse juffrou by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Helena Ewert,
se eerste digbundel, Grondstof, het pas die lig gesien.

Ewert vertel dat sy reeds sedert die ouderdom van 13 jaar gedigte skryf.

“Op 15 en 16 is daar jaarliks een van my gedigte in Poort gepubliseer,” vertel sy.

Poort is ’n digbundel wat jaarliks verskyn en ’n keur van die skryfwerk van leerders landwyd
bevat.

Ewert sê sy het nog altyd ’n liefde gehad vir skryf, maar veral vir gedigte. Twee van haar kortverhale is in 2020 en 2021 in Vrye Weekblad gepubliseer.

Heelwat eksemplare van Grondstof is reeds verkoop, sê Ewert.

“Meeste is deur oud-leerders, ouers en kollegas gekoop.”

Ewert sê sy probeer daagliks skryf, en bly so “skryffiks”.

“Ek hou ’n daaglikse joernaal, maar in digvorm, en put inspirasie uit metafore, die natuur en selfs
interessante leestof.”

Die voorblad van haar bundel is ’n foto wat sy self geneem het van aalwynblare in Lategansvlei.

’n Vriendin wat in Nederland woon, en met wie sy gereeld gesels, het die foto’s verwerk sodat dit lyk soos Karooberge, droë rivierlope en asof daar vloei in die foto is.

“Grondstof gaan vir my oor dit waaruit alles wat leef, kom. Dis ook die basis waaruit enigiets gebou word en mense is ook uit stof gemaak,” sê sy.

Haar boekrak by die huis is vol van haar guns – telingdigters soos NP van Wyk Louw, Sheila Cussons, Breyten Breytenbach en DJ Opperman. (Deur Angelique Erasmus)