Laat jouself nou inent en keer so ’n vierde Covid-19-golf hier

Dit is belangrik dat inwoners van die streek nou alles in hul vermoë doen om ’n vierde Covid-19-golf in die Klein Karoo te verhoed, sê Hannes Steg­mann, hospitaalbestuurder van die Medi­clinic Klein Karoo op Oudtshoorn.

Stegmann het inwoners van die streek wat nog nie teen Covid-19 ingeënt is nie, aangemoedig om die Mediclinic Klein Karoo vir hul inenting te besoek.

Inwoners word ook aangemoedig om op hulle beurt hul familielede, huiswerkers, vriende en werkskollegas aan te moedig om die inenting te ontvang. Instappers (walk-ins) word gehelp om te registreer. Die hele proses is vinnig en neem gewoonlik nie langer as 20 minute nie.

Almal wat 18 jaar en ouer is, ontvang die J&J-entstof, waarvan slegs ’n enkele dosis nodig is.

Entstof word Maandae tot Donderdae van 07:30 tot 15:30 en Vrydae van 07:30 tot 12:00 toegedien.

Mense moet onthou om hul identiteitsdokument saam te neem terwyl lede van mediese fond­se ook hul mediese fondskaart moet saambring.

Die entstof word gratis aan almal toegedien, maar mediese fondse betaal vir die Covid-entstof vir lede as deel van die “Prescribed Minimum Benefits”. Die koste word nie van lede se spaarplanne verhaal nie.

Die inentingseenheid by die Mediclinic is aan die agterkant van die hospitaal geleë. Gebruik die hospitaal se hoofingang vanuit Kerkstraat en ry links buite-om die geboue na agter waar parke­ring beskikbaar is.

Deur die inenting te kry beskerm jy nie net jouself nie, maar skep jy ’n veilige omgewing vir almal met wie jy in kontak kom en help jy om hierdie pandemie te bekamp. Moet asb nie die rede wees dat iemand anders Covid-19 opdoen en moontlik sterf nie.