Coenie, Deon bied Kerskonsert op Oudtshoorn aan

’n Kerskonsert onder die Klein Karoo se sterre.

’n vroeë Kerskonsert om die Kerstyd in te wy, is spesiaal deur Coenie de Villiers en Deon Meyer vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) én Oudtshoorn saamgestel.

Gehore regoor die land was gaande oor De Villiers en Meyer se Karoo Suite 1 & 2 en nou het die twee meesters en Karoo-liefhebbers ’n spesiale vertoning, Karoo-Kersfees, saamgestel wat op 25 en 26 November om 19:00 by die pragtige Surval Boutique Olive Estate net buite Oudts-hoorn opgevoer gaan word.

“Uiteindelik kan ons weer vir Coenie en Deon in die Klein Karoo verwelkom, en dit met ’n spesiale musiek- en woordreis vir die Kerstyd. Dit is wonderlik dat ons stadig maar seker weer lewendige vermaak vir plaaslike en besoekende musiekgehore kan aanbied met van ons land se voorste kunstenaars,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

De Villiers skuif agter die klawers in vir ’n Karoo-program wat nie net aan die landstreek hulde bring nie, maar ook die Kerstyd. “Uiteindelik kan ons weer optree. Boonop kan ons dit doen onder die sterre in die Karoo. Kom deel die Kersfees-gees met ons – dit gaan ’n voorreg wees om weer ’n gehoor te sien,” vertel hy.

Meyer sluit as gas op die verhoog aan en hulle besing die Karoo, die sterrenag – en veral daardie één sterrenag duisende jare gelede.

“Daarom is dit ’n Karoo-Kersfeeskonsert onder die sterre. In die Karoo. Ná al die maande van pandemie, inperkings en beperkings. Dit gaan manjifiek wees,” sê Meyer.

Karoo-Kersfees beloof om ’n onvergeetlike en spesiale ervaring vir die hele gesin te wees. Die produksie duur 70 minute.

’n Beperkte aantal kaartjies is by Quicket beskikbaar teen R250 per persoon – spring gou om jou sitplek te bespreek.

Alle Covid-19-regulasies sal nagekom word en lede van die gehoor moet te alle tye ’n masker dra. Vir navrae kan die KKNK-kantoor by 044 203 8600 gekontak word, of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337, of ’n e-pos na info@kunste.org.za.