Tania se nuwe boek Heelword ook bekroon

Bo is Tania Smit en regs haar nuwe boek Heelword.

’N TWEEDE boek van Tania Smit, gewilde skrywer van Oudtshoorn, is die naweek deur die Richmond Boekbedonnerdfees aangewys as die beste inspirerende boek van 2020.

Dié eer het Tania se nuutste bundel Heelword te beurt geval. Haar vorige bundel, Hekelwoorde van my hart, is twee jaar gelede by die Boekbedon-nerdfees as die beste inspirerende boek van 2018 aangewys.

Smit, wat ook vir ’n nasionale eiendomsagentskap werk, het haar dankbaarheid oor haar tweede Boekbedonnerd-toekenning vandeesweek op Facebook gedeel: “Dankie vir Darryl en Peter, en die Richmond Boekbedonnerdfees vir die erkenning wat julle aan onafhanklike skrywers gee. Hier­die krone wat julle uitdeel, beteken die absolute wêreld in ons wêreld.”

Sy skryf onder meer dat die geboorte van haar tweede bundel vreesaanjaend was. “Jy deel met jou eie verwagtinge, en staan letterlik heeltyd in jou eie pad en loer vir jouself in jou gedagtes, in jou skrywes, in jou proeflees. En jy deel konstant met al die baie pressure wat jy jou verbeel mense op jou sit, terwyl jy eintlik maar die een is wat dit op jouself sit … as dit flop, weet jy dit gaan voel soos oorbegin. En ek wil nie meer oorbegin nie, ek wil aangaan. Nou kan ek net skryf.”

Tania het verlede jaar tydens ’n gesprek met Die Hoorn gesê baie mense koop albei boeke – die tweeling soos sy daarna verwys.

Heelword is volgens haar een van die “trappe van vergelyking” van Hekelwoorde en byna ’n natuurlike opvolg wat moes gebeur.

Haar onverskrokke manier waarop sy oor emosies en gebeure in haar lewe skryf, vind aanklank by baie.

Sy ontvang gereeld positiewe terugvoer van mense wat vertel dat haar boeke hulle help, sê sy. (Deur Liesel le Roux)