Kunstenaarwees is in hulle bloed

Bo: Hilton Jackson en Nelton Willemse neem ’n blaaskans tydens ’n werksessie. Onder: Hilton Jackson met die skildery wat hy vir Spar se Tarryn Macdonald gemaak het. By hulle is Skillie Pretorius, eienaar van die nuwe Spar by Jou eie sentrum. Teen die muur pryk een van Hilton se kunswerke. Foto’s: Hannes Visser

Besoekers aan die nuwe Spar by Jou eie sentrum, word met die intrapslag verwelkom deur twee groot muurskilderye van die Klein Karoo. Die kunstenaar van die skilderye is Hilton Jackson, ’n Oudtshoorniet wat sedert sy skooldae skilder.

Hy het verlede week met die opening van Spar ’n skildery van Tarryn Macdonald, die Spar-groep se ontwerper van nuwe winkels, aan haar oorhandig.

Alhoewel Hilton se gunstelingtema die Klein Karoo se landskap is, skilder hy ook ander tonele en doen portretstudies op bestelling. Hy het geen formele kunsopleiding nie en vertel dat hy eintlik maar sy hele lewe lank ’n kunstenaar is en niks anders wil wees nie.

Hilton se skoolvriend, Nelton Willemse, is ’n mede-kunstenaar en die twee werk dikwels saam. Nelton se voorliefde is geboue en straattonele, maar soos Hilton, is hy veelsydig en ook ’n bekwame portretskilder. Die twee kunstenaars is gereeld saam en alhoewel elkeen op sy eie ’n bestaan maak, span hulle dikwels kragte saam met projekte.

Die Hoorn het hulle juis Dinsdag so saam-saam by Beans Café in Kerkstraat aangetref waar hulle sommige oggende sit en werk.

Die twee vertel dat hulle heel eerste projek in die vroeë negentigs tydens die KKNK was. “Daar was ’n lang muur langs die rivier wat vroeër ’n skietbaan of iets was. Ons was in matriek en ons het ’n groot toneel op die hele muur geskilder,” vertel Nelton. Hy noem dat dit dalk ’n goeie idee sal wees as die KKNK weer so iets vir kunstenaars moontlik maak.

Hilton vertel dat hulle verlede jaar tydens Decorex in Johannesburg ’n uiters suksesvolle uitstalling van hulle werke gehad het.

“Om van kuns te lewe is ’n uitdaging, maar daar is baie mense wat ons talent raaksien en ons ondersteun,” sê hy. Elton beaam dit en noem dat hy onlangs muurskilderye by Nostalgie-restaurant in Baron van Reedestraat gedoen het. “Ons skilder en teken elke dag, dit is ons werk en ons geniet dit,” sê hy.

Inwoners wat graag met die twee kunstenaars kontak wil maak kan hulle bereik by 083 318 3025 (Hilton Jackson) en 071 840 1292 (Elton Willemse). (HANNES VISSER)