

’n Ma van ses kinders het Saterdagaand daarin geslaag om haar vyfjarige seun van ’n gewisse branddood te red, maar moes hulpeloos toekyk hoe haar man en agtjarige dogter deur vlamme oorweldig word.
Linda Witbooi, haar man Thomas en twee kinders was Saterdagaand reeds in die bed toe die brand in hulle opslaanhuis in GG-Kamp aan die brand slaan.
Linda het Maandag aan Die Hoorn stukkies van die aand vertel, maar was steeds te getraumatiseer om die volle verhaal te vertel. Sy onthou net dat sy wakker geword het en “blou en rooi vlamme” in die vertrek gesien het.
“Ek het ons seuntjie gegryp en met hom uitgehardloop. Al wat ek onthou is dat die blou en rooi vlamme saam met my by die deur uitgekom het. Ek wou teruggaan, want my man en ons dogtertjie was nog binne, maar toe brand die hele plek al.”
Thomas en die agtjarige Sphesihle se verkoolde liggame is in die puin ontdek nadat die brand geblus is. Linda het vyf kinders waarvan een ’n volwassene van 21 is. Sy en die ander vier, ’n seuntjie van vyf en drie dogters van 11, 15 en 18, het al hulle besittings verloor en is tans onderdak by Thomas se broer, Samora en sy gesin in ’n piepklein huis in Bongolethu.
Samora het Maandag vertel dat hy Saterdagaand omstreeks tienuur ’n boodskap ontvang het dat sy broer se huis brand.
“Daar is nie taxis nie en ek moes soontoe hardloop. Toe ek daar kom, was alles al verby. Die polisie het my gekeer en gesê iemand het doodgebrand. Hulle het later my broer se liggaam onder die uitgebrande bed gekry en die kleintjie het hulle in die hoek van die kamer gekry. Ek dink sy het tot daar van die vlamme probeer wegkom.”
Hy sê dat hulle die munisipaliteit genader het vir materiaal om weer ’n struktuur op te slaan.
“Linda is op die waglys vir ’n huis, so sy moet weer op dieselfde plek opslaan anders verloor sy haar plek op die waglys.”
Persone en organisasies wat die gesin kan bystaan, word gevra om twee gemeenskapswerkers te kontak wat die gesin deur die proses help. Die gemeenskapswerkers is Rozelda Laban (083 397 0186) en Dorothy Rostoff (073 878 8138). (HANNES VISSER)