
Op Saterdag 9 November het Eden Light Tackle Boat Angling Association ’n varswater liga kompetisie by Stompdriftdam gehou.
Met 17 hengelaars wat deelgeneem het was dit ‘n gebeurtenisvolle dag, met ‘n groot aantal visse wat gevang was en geweeg is. Die belangrikste vangste vir die dag was barber en karp.
Daar is 154 barbers en 51 karpe gevang, met ‘n gesamentlike gewig van 301,05 kg.
Alle visse is weer ongedeerd in die water vrygelaat. Daar was ook ‘n uitsonderlike vangs van ‘n karpspesie, wat nog nooit vantevore gesien is nie. Dit is deur ‘n dameshengelaar, Sanwyn Smith, gevang en het 2.71kg geweeg. Die vis se stert is nie soos ’n karp se stert nie, maar eerder dié van ’n Koi-vis. Die vis is weggestuur vir identifikasie om as ‘n SA-damesrekord en Eden LTBAA-rekord op 4kg-lyn geëis te word. Dit sal ’n tyd neem voor die uitslae bekend sal wees.
Erené van Heerden (dameshengelaar) het die swaarste karp vir die dag (3,72kg) gevang en veteraanhengelaar, Louis Theron, het die swaarste barber (7,2kg) vir die dag gevang. Die finale uitslae vir die dag was: top veteraanhengelaar – Louis Theron (23 visse van 35,13kg), top senior hengelaar – Anton Williams (42 visse van 47,19kg), top dameshengelaar – Chanzelee Viljoen (11 visse van 17,14kg) en top o/16 junior-hengelaar – Anton Williams jr. (25 visse van 31,71 kg).